RSG4X4KLUB PRETNAWEEK BY MOOLMANSHOEK.  6 – 9 APRIL 2012

Moolmanshoek is nommer een op die lys van beste 4x4 roetes en blyplekke in die land en le ongeveer 350 km van die Rand af. Dis waar die Boerperde geteel word en die gidse ry op perde. Die van ons wat die roete per perd wil aanpak moet net by aandete met Wiesman Nel reel dat daar die volgende oggend ‘n ekstra perd saamgaan op die roete.

Moolmanshoek le amper in die middel tussen Ficksburg en Roosendal en Fouriesburg in die Oos – Vrystaat as jy nou die drie dorpies sou verbind.  Dis die mooiste sandsteen formasies met die Visierskerf berg wat die hoogste berg in die Vrystaat is, op die plaas. Dis vyf plase wat Willie Nel saamgevoeg het om ‘n wildparadys te vorm met die beste staproetes en 4x4 roetes om jou regtervoet te laat jeuk.  Daar is die allerluukste sandsteen lodge met dertien pragtige kamers. Dan is daar nog twaalf kamers wat baie netjies is, maar goedkoper. Dis beskikbaar op die eerste vra, eerste kry basis.

Die kampplekke is op die pragtige groen grasperke naby die lodge met aparte ablusie geriewe.

VRYDAG: 6 APRIL  

Ons kom almal die OGGEND 12 UUR  op die plaas bymekaar ,kry jou blyplek en maak jou tuis.. Die wat in die lodge bly, boek in en die wat kamp opslaan, kry die blyplekke in orde. Registrasie is in die saal by die lodge om 1 UUR.

Ons kom seweuur in die saal by die lodge bymekaar vir aandete half agt.

SATERDAG: 7 APRIL

Nou moet ons verstaan dat die dae se roetes kan omruil, afhangende van die weer en beskikbaarheid.

Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege. Ons ry deur die driffie op die roete deur die wildvlakte tot ons bo op die plato kom wat afkyk op die sogenaamde mini Serangeti omdat die hele vlakte voor ons vol is van alle soorte wild. En hulle is mak – sommer naby en baaaie mak. Daar is alles van Gemsbokke, blesbokke , Elande, Springbokke en nog baaie meer.

Nou ry ons deur ‘n ouhout bos met baie voels. Daar leef 27 soorte goggas en kewers op hierdie bosse wat alles kos is vir die voeltjies.

Nou begin ons teen die steil sandsteen rante uit ry. Die roete is so beplan dat ons meestal op die sandsteen ry waar daar nie plantegroei is nie. Dan beskadig ons nie die ekologie nie.

Volgende stop ons reg naby ‘n massiewe hang krans waar die boeretannies in die oorlog geskuil het. Dis enorm, maar jy sien dit eers as jy binne is.

Die roete verder neem ons oor die Golden Gate –tipe sandsteen deur die klowe en so teen middagete kom ons reg bo op die rand vanwaar ons die Sangomakloof sien. Hier hou ons die Sangomas met ons verkykers dop wat vir hulle verfrissingskursusse kom. Ons sien hoe die mense tussen die verweerde sandsteenlae in die kranse woon.

Verder het ons ‘n heel asemrowende roete wat ons deur die heilige gedeelte van die swartmense neem waar die moeti-grond van die Sangomas uitgehaal word. Hulle glo dat hierdie asgrond heilig is en grawe dit uit om in die muti in te meng. Van hier af gaan ons terug kampplek toe.

Vanaand is ons betyds vir ‘n stort voor die aandete half agt en gevolglik die lekker saamkuiery.

SONDAG: 8 APRIL

Ontbyt is weer half agt en teen half nege vertrek ons na Langesnek, die Westelike deel van die plaas waar ons die ou geskiedenis ervaar. Ons ry verby ‘n ou skaardip wat uit die soliede sandsteen gekap is en nog sal werk as ons net die mengsel ingooi. Daar is ook ‘n bad waar die oumense gebad het. Die water het in ‘n lang slootjie oor die warm sandstene geloop sodat dit lekker warm was as dit in die bad kom en so het hulle skoon geword.

Hiervandaan klouter ons met die 4x4’s teen die steil sandsteen uit tot by die wonderlikste rotsformasies.--- maak seker jy het genoeg films. As ons bo kom, sal die mooi uitsig jou asem wegslaan. Nou beweeg ons, afhangende  of dit baie gereen het, in ‘n donga af en deur na die oorkantste paddastoel formasies wat ons terug neem na ons kamp vir die aand se ete half agt en dan ons gebruiklike konsert.

MAANDAG: 9 APRIL

Ontbyt is agtuur en dan is ons vry om nog lekker te kuier of te gaan stap deur die pragtige bospaadjies naby die lodge en daarna moet ons die langpad huis toe aanpak.

Die wat ver kom, gaan gewoonlik nog ‘n aand op Moolmanshoek oorbly om dan ‘n bietjie perd te ry op Wiesman se kampioen Arabierperde.

Kampers moet hulle eie tente, of woonwaens bring, drinkgoed, alhoewel daar ‘n kroeg op die plaas is en koeldranke. Bring kampstoele, handdoeke, flits,kamera, banddrukmeter, en pomp en as jy het, ‘n sleeptou net vir ingeval.

Die koste wat al die etes, padkos, roetes, kampplekke en die  uitstappies insluit is
R2950.00 per persoon. Kinders 6 – 11 jaar is R1125.00 en 12 – 15 jaar is R1740.00. Dit sluit die kampplekke in.

As julle in die gastehuis wil bly, skakel vir Martie. Elke kamer het sy eie tarief, afhangende van die luuksheid. Daar is twee ander lodges binne 1500 meter van die hooflodge af wat goedkoper is. By al die kamers se tariewe het ons reeds die kampkoste afgetrek. Jy betaal net die balans.

KONTANT OORBETALINGS: As julle kontant-oorbetalings doen, reken 2% KONTANT DEPOSITO FOOI in by die bedrag  wat julle inbetaal.

KANSELLASIES: Al die kostes is voor 30 dae alreeds oorbetaal aan die verskillende instansies waarheen ons gaan, bv. blyplekke en die mense wat die etes voorsien. As julle binne 30 dae kanselleer, kan ons nie julle gelde terug waarborg nie

OM DAAR TE KOM 
Ry tot by Senekal. Ry nou ongeveer drie km uit die dorp uit op die Bethlehem pad en draai regs (suid) op die Ficksburg pad R70.  Na 30 km kom jy by Rosendal. Dis ‘n klein plekkie en jy mis dit maklik.en nog 10 km verder draai die grondpad links na MOOLMANSHOEK—8 km. Maak brandstof vol op Senekal.

Groete

Francois  My noodnommer is 0824915900

 

Klik hier om terug te gaan na die jaarprogram