DIE RSG4X4 TOER NA DIE SWARTBERGE, HEL EN ATTAQUASKLOOF 2011
Omdat petrol so duur raak, het ons hier ‘n paar roetes bymekaar gesit om die afstand wat ons moet ry om daar te kom, die moeite werd te maak.
Ons eerste aand kom ons bymekaar naby Prins Albert en ons maak klaar op die pragtige Hartenbos. Intussen ry ons tot diep in die Hel, die Swartberge en deur die ou Attaquas ossewaroete. ‘N hele ervaring wat ons seker net hierdie een keer sal kan doen. Ons sal al die etes, padkos en elke aand akkommodasie voorsien, sodat ons nie kampgoed hoef saam te ry nie. Ons gaan ook die Kangogrotte besoek.
DAG EEN WOENSDAG 16 NOVEMBER
Ons kom almal by Prins Albert bymekaar.
Ons bly in verskillende gastehuise en sal die ou dorpie volmaak. Ons eet almal saam by die skougronde op die dorp waar Johanna Luttig vir ons gaan uithang met die lekkerste kos waarvoor sy bekend is. Dis ook waar ons ontbyt. Daar is geen drinkgoed behalwe koffie en tee nie, so, jy moet vir jou eie drank sorg.
DAG TWEE DONDERDAG 17 NOVEMBER
Ons ontbyt half agt by die skougronde en vertrek half nege. Maak seker dat jy vir elkeen in die voertuig ‘n kospakkie vat.
Dan gaan ons deur die skilderagtige dorpie Prins Albert. Daarvandaan pak ons die Swartbergpas aan. Ons stop onder by die ou tronk waar die bandiete aangehou was wat die pas gebou het.
By die mooi plekke stop ons vir die wat wil fotos neem. Amper bo draai ons Suid af in die Hel in. Dis eintlik Gamkaskloof, maar in die tye voor die pad deur Koos van Zyl in 1962 gebou was, was dit hel om daar uit te kom.Hierdie pas is baie mooi en iets wat ‘n mens moet sien.
Ons gaan kyk na die ou gedeeltes waar die mense gewoon het. Daar is ou landmerke om te sien en selfs die oorblyfsels van die eerste motor, ‘n Morris 8 wat voor die pad se tyd deur die kloof ingedra was in die Hel in. Ons bly die aand by die kampplek naby Annetjie Joubert se winkel. Hulle gaan ook vir ons die regte boerekos maak vir aandete. Hulle gaan spesiaal vir ons tente opslaan, sodat ons nie hoef te sukkel nie. Daar sal matrasse en beddegoed wees, maar dis alles baie basies. As jy ‘n ,,stretcher’’ wil he, sal jy hom self moet saambring. Vat dit soos jy dit kry!. Daar is ablusieblokke met warm water. Dit is so ‘n ervaring om in die Hel te kan slaap, dat ons maar daardie aand ‘n bietjie gerief sal moet opoffer.
Aandete is half agt en daar sal van die kontrei se beste wyne wees om te koop met geen beswaar as jy jou eie drank saambring nie.
DAG DRIE VRYDAG 18 NOVEMBER
Ontbyt is weer half agt en onthou om jou kospakkie te vat.
Vanoggend na ontbyt gaan ons weer die kronkelpaadjie van die pas op tot bo waar ons by die Swartbergpas aansluit. Nou ry ons oor die geskiedkundige pas terwyl Oom Zannie al die staaltjies en geskiedenis oor die radios vertel.
Ons gaan tot onder die pas tot by die skilderagtige plaas De Oude Meul van Boy Spies.
Op sy plaas is die pragtigste lodge waar ons die aand gaan bly en hulle lekker skaapvleis eet.
Dis hier waar ons die steilte van die Swartberge ingaan om die wild en blomme te ervaar op paadjies vat enige 4x4 ou se mond laat water.
Hierdie dag gaan ‘n ware hoogtepunt op die toer wees.
DAG VIER SATERDAG 19 NOVEMBER
Na ontbyt gaan ons almal Kango Grotte toe waar ons ingaan om net weer ‘n slag te gaan sien hoe mooi dit regtig is.
Dan ry ons verder tot by die Robinsons Pas waar ons wegdraai op die ou Attaquas ossewapad wat die enigste transportroete was van Mosselbaai Karoo toe in die agtienhonderds. Ons stop by die oorblyfsels van die destydse herberg aan die voet van die pas en dan weer by die plek waar die ossewaens na die pas herstel was. Daar tussen die gras le nog gebreekte ossewa aste en dele, omdat dit nie ‘n maklike pas was nie. Vir ons 4x4 voertuie is die paadjie kinderspeletjies, maar die swaar vragte het sy tol ge-eis onder die waens. Op die roete is die oorblyfsels van die ou watermeul waarmee hulle die koring gemaal het in daardie tyd.
Bo teen die pas is nog die ou blokhuis waar die Engelse in die oorlogtyd die verkeer gemonitor het. Anderkant af is ook ‘n ding en daar is ook ‘n gewese ossewawerkswinkel en oorblyfsels van ‘n herberg. Hierdie roete is so spesiaal en baie min mense weet daarvan. Die pas eindig op die gasteplaas Bonnidale.
Nou draai ons deur die bewaringsgebied op ‘n small paadjie wat ons terugneem deur Paardekop plantasie tot by die Ruitersbos skool waar ons by die ou Robinsonspas teerpad aansluit.
Nou is dit 45 km tot by Hartenbos waar ons die aand in die ATKV oord in chalets bly.
Ons gaan sommer in die SPUR in die oord eet. Die ete is ingesluit en jy moet net jou eie drank hier koop.
DAG VYF SONDAG 20 NOVEMBER
Sondagoggend gaan ons in die Spur ‘n ontbyt eet en dan is dit tyd om die pad huis toe te vat.
Hierdie is ‘n eenmalige roete en ons het probeer om al die slaapplekke te reel. Vir die aand in die Hel het ons ‘n ou gekry om vir ons tente te kom opslaan met matrasse en beddegoed. Die etes is spesiaal en ons gaan daardie deel van die land tot in sy diepste gate bekyk. Nog nooit kon iemand die roete soos ons dit nou doen, op een slag belewe nie.
Bring julle eie handdoeke, flitse, toiletpapier, kamera, drinkgoed, bandepomp en drukmeter. Bring jou kampstoel vir die kuier langs die vuur die aand in die Hel.
Die koste van die trip is R3950.00 per persoon wat alles insluit soos slaapplekke, al die etes en padkos, gidse, permitte vir die bergroete en ook die Attequaskloof, gidse, ens.
Ons veskaf tweerigting radios. Sorg dat daar ‘n oop aanstekersok is om dit in te prop.
Bring peuselgoed vir die pad. Werk uit hoeveel drinkgoed jy gaan nodig he, maal dit met twee en tel 50% by.
Oom Zannie van der Walt wat die natuurbewaar-bestuurder van die Hel was en ‘n legende is, gaan ‘n groot deel van die tyd saam met my ry en sal al die stories van die Hel sommer so in die ry oor die radio vertel.
Annetjie Joubert wat ‘n legende van die Hel is, gaan persoonlik saam met ons kuier die dag daar en sy het die beste droevrugte en ingelegde vrugte en konfyte wat ons daar kan koop.
As jy ‘n dag of twee wil agterbly in Hartenbos, bespreek by 044 601 7200 en praat met Lorette of Karin en noem dat jy deel van die RSG4X4KLUB is.
Brandstof is elke 200 km beskikbaar op die roete.
AKKOMMODASIE IS BEPERK, ONS WERK OP “1STE DEPOSITO KRY PLEK”.
GROETE
FRANCOIS
MY NOODNOMMER 0824915900
Klik hier om terug te gaan na die jaarprogram