Home

ANGOLA : 2 – 16 MEI 2010

Welkom saam met ons op hierdie ongelooflike 4x4 ondervinding. Vanjaar gaan ons twee dae langer in Angola bly, omdat ons in die verlede te veel van ‘n gejaag gehad het en nie alles kon sien nie. Ons gaan ook noord van Namibe, waar ons mooier werelde sien. Angola is rof, verlate en afgelee. Wat daar nog was, is deur die oorlog platgevee. Dis ‘n belewenis, maar nie ‘n plek vir sagte handjies en moungatte nie. Daarom moet jy bereid wees om dinge te vat soos dit kom en die hard saam met die lekker te vat. In ruil sien en ervaar ons dan baie dinge wat vir die res van die mense net drome bly.

Voorheen moes elkeen sy eie kos maak, wat beteken het dat al die voertuie oorlaai was en gesukkel het met pap wiele en gebreekte vere. Daarom het ons dit verlede jaar probeer en vanjaar besluit om weer kosmakers saam te vat wat al die kos sal verskaf. Daardie ekstra koste sal die trip soveel makliker maak sodat ons dit meer kan geniet. Ons sal ook drie bystand voertuie he wat dit soveel veiliger maak as ons die stuk langs die see moet aandurf, want as daar iets met jou kar skeef loop, het jy sterk trekgoed nodig en gou ook voor die hoogwater kom.

Die dele waar ons gaan, is veilig met geen landmyne nie en baie min mense. Die droe suid-westelike deel van die land is byna heeltemal ontvolk. Ons ondervinding die afgelope paar jaar was dat die stede is totaal oorbevolk en verskriklik verwaarloos en vervalle is. Nadat die Portugese met onafhanklikheid in 1975 die land uitgesit is, was daar maar min onderhoud of verfwerk gedoen. Die teerpaaie en strate ook. Ons was heel verbaas om van verlede jaar af ‘n skielike verbetering in toestande te ervaar met die heropbou van die land wat nou sterk op dreef is en oral sien ons opgradering.

SONDAG 2 MEI 2010
Ons Kom almal tot by RUACANA waar ons brandstof volmaak Ons maak ook ons watertenks daar vol. Dan ry ons verder met die teerpad verby die grens se afdraai vir 16 km. Daar stop die teer en 500 meter verder is die HIPPO POOLS kampplek op die walle van die CUNENE Rivier. Ons gaan net so entjie aan en kamp by ‘Cunene Island Camp’ vir die nag . Aandete is half agt, maar ons kan van sesuur af registreer. Vir mense wat iets nodig het, kan hulp kry by die vulstasie op Ruacana. Daar is ook ‘n gastehuis op die dorpie.

MAANDAG 3 MEI 2010
Ons gaan oor die grens, maar dis stadig . Maak jou reg vir vier ure om deur die grens te kom. Hou jou voertuig se papiere byderhand en maak voor die tyd seker die enjin en onderstelnommers is reg. Maak seker jy weet waar hulle sit. Maak ‘n lys van alle waardevolle items soos kameras en GPS en selfone. Dit moet dan deur die doeane gestempel word sodat jy nie hoef belasting daarop te betaal as jy weer terugkom Namibie toe nie. Dis net makliker dan by die grens.

As almal deur die grens is, begin ons tog wes deur die mopanievelde sonder behoorlike paaie. Die aand maak ons kamp op die wal van die Kunene rivier vir die nag. Die kokke ry saam met ons en begin eers kos maak as ons stop. Daarom berei ons ons voor vir laterige aandetes. Ons neem ‘n storthuisie saam. Jy bring net water saam. Gee jou water vir die ouens by die vuur en hulle gee jou warm water wat jy in die huisie in die emmer gooi en skakel die pompie aan. As jy skoon is, of die water op is, is jy klaar!!. Dit werk baie lekker.

DINSDAG 4 MEI 2010
Nou verlaat ons die beskawing en is die ongerepte boswereld ons voorland. Ons sal die aand kamp maak waar ons ookal kom. Daar is oral mooi plekke. Die roete lei ons weswaarts parallel met die Kunene deur die Angolese Kaokoveld wat hulle die Enyandi area noem.

By die verskillende punte (Iona, Tombua ens) rapporteer ons eers aan die polisie. Hou maar die paspoorte byderhand. Elke slag as ons polisiestreke deurgaan, moet ons maar geduld he omdat ons eers moet ,,Inklaar’’ Dis om hulle gerus te stel dat ons kom in vrede. Die wereld gaan nog gebuk onder die ou militere reels. Dis egter net ‘n formaliteit. Gelukkig kan ons gids Portugees praat. Ek maak voor die tyd ‘n volledige lys van elke voertuig en sy passasiers se paspoortnommers en alles wat ek elke slag vir hulle gee. Ons kamp weer die aand langs die roete. Daar is oral pragtige plekke en byna geen siel in sig nie.

WOENSDAG 5 MEI 2010
Ons ry deur die Iona park, wat ook maar net veld is, maar die pad raak slegter en die plantegroei al hoe skraler Hoe verder wes ons gaan, hoe nader kom ons aan die woestyn en hoe minder mense is daar. Ons kry al hoe swakker paaie , maar die natuur raak al hoe meer besonder. Die koppies en berge raak growwer, maar die spore is minder verspoel. Vandag is die weer ook warmer. Ons kamp weer in die veld op ‘n oop kol waar daar nie doringbosse is nie.

DONDERDAG 6 MEI 2010
Vandag word die veld skraler en die gras minder. Welwitchias begin baie meer volop raak By Espenheira gaan ons na die rotsformasies kyk en dan is dit vlaktes met gemsbokke en volstruise hier en daar en soms ‘n springbokkie. Die aand is die straf amper oor en slaap ons by Cunene mond Afhangende van die wind, slaap ons op die strand, of ‘n entjie terug langs die Cunene Rivier naby die mond.

VRYDAG 7 MEI 2010
Ons hoop om voor tienuur by Kunenemond te wees. Nou ervaar ons alles waarvoor ons gekom het. Ons maak ons waterkanne vir was vol vars water en maak ‘n draai by die gewese pompstasie waarvandaan die Baia dos Tigres eiland se water gepomp was in die goeie ou tyd. Die water is lekker warm en ons swem.

Dan vang ons vis. Die Kabeljou byt hier soos jy nog nooit gesien het nie. As jy na tien sekondes nie ‘n byt het nie, is jou aas af.! Ons mag nie meer vis vang as wat ons kan opeet nie en gooi die res terug met trane in ons oe. Die beste aas is sardines en ons moet ons eie saambring. Ek sal probeer genoeg kry vir dien wat nie vrieskaste het nie.

Ons slaap die aand weer op dieselfde plek.

SATERDAG 8 MEI 2010
Vandag is dit ‘n lawwe stuk wat voorle. Ons ry 200km. langs die see met die duine loodreg by die hoogwatermerk. Ons kan net laagwater ry en daar is mere wat tot teen die duine kom. Die gidse ken die storie en ons het Genoeg hulpvoertuie. Hierdie is die erg lekker van die toer. As die gety verkeerd is, ry ons deur die duine. Dis dan ook hier waar ‘n sleepwa gladnie sal werk nie.

Ons gaan egter eers verby Baia dos Tigres, ‘n eiland wat eers aan die land vas was met ‘n sandbank, maar nou diep in is. Daar was visfabrieke en mense, maar alles is nou verlate, omdat die watertoevoer van Cunenemond af in die oorlog verwoes is.

Ons ry verder strandlangs verby die wrak van die Vinessa, ‘n vistreiler wat so vyf jaar terug daar gestrand het. Dan draai ons binneland toe verby die voorheen vooruitstrewende visfabriekdorpie Tombua, wat nou ‘n vervalle gemors is. Die vordering hier is maar afhanklik van die gety, die toestand van die strand en die ouens se ryvermoe – so afhangend van vordering probeer ons ook ‘n draai te maak by Arco, ‘n oase in die woestyn.

Ons kom die aand by Flamingo kamp waar ons twee aande bly..Hier is ook beperkte aantal chalets beskikbaar vir die wat nie wil kamp nie.

SONDAG 9 MEI 2010
Ons vang weer vis. Hier is ook .n boot waar jy vir ongeveer R600.00 vir die dag kan diepsee toe gaan om vis te vang. Verlede jaar het die ouens 25kg Leervisse gevang. Angola se wette se jy mag net soveel visse hou as wat jy kan opeet en jy mag nie huistoe neem nie.

Ander opsies is om op ‘n Quadbike toer deur die canyons te gaan, of om na die groot Welwtchias te gaan kyk.

MAANDAG 10 MEI 2010
Ons vertrek na Namibe en dan gaan ons verder noord om die land te bekyk en kamp die aand op die strand by Pippas. Ons sal brandstof ingooi wat nogal ‘n operasie is, by Namibe.

DINSDAG 11 MEI 2010 & WOENSDAG 12 MEI 2010
Ons gaan verder Noord na Rapheals of Foarado waar ons op die strand uitspan en visvang , en rus – pragtige plekkies!.

DONDERDAG 13 MEI 2010
Ons draai Suid-oos om weer op die hoofpad te kom, om oor die Leba pas tot op die plato te kom.

Die Leba pas is die mooiste wat ek nog gesien het en is deur die wereldbank aan Angola geskenk. Dit kronkel teen die berg op tot bo op die plato.

Dan gaan ons na Humpata, die dorpie waar die Dorsland trekkers gevestig het.

Ons gaan kyk na die monumente en ou kerkie.

Ons kamp die aand op die perseel van die PALANCA NEGRA LODGE.

Hier kan diegene wat wil, vir hulle ‘n kamer op hul eie rekening kry. Ons armes gaan maar kamp. Die kamers is ongeveer 60 U.S.Dollar per dag per persoon.

Die aand gaan ons in die Lodge eet. Elkeen vir sy eie rekening. Hierdie is ook die enigste koste, behalwe drank en brandstof wat nie ingesluit is by die koste nie, maar die mense raak nou al moeg en lus om hulleself te bederf.

Voorheen het ons ‘n hotel by Lubango probeer, maar dit was rampspoedig. Geen water---geen elektrisiteit nie.

VRYDAG 14 MEI 2010
Ons gaan besoek Lubango vir die dag. Ons gaan tot op die berg by die Christus beeld soos op die Sugarloaf by Rio. Ons gaan na die Tundevalle, ‘n massiewe krater, en bekyk die erg vervalle stad met sy Miljoen inwoners

SATERDAG 15 MEI 2010
Vandag begin ons terugtog terug huis toe. Ons roete gaan oor Cahama en terug grens toe.

Die teerpad was voorheen so onrybaar dat ons net 150 km vir die dag vorder. Daar word egter kwaai gewerk aan die pad en dinge sal sekerlik nou beter gaan. Ons kamp langs die ,,pad” en hou so ‘n laaste aand post mortem partytjie.

SONDAG 16 MEI 2010
Ons ry verder op pad grens toe. Ons hoop om vroegmiddag by Oshikango deur die grens te wees. Daardie grenspos is bietjie makliker as Ruacana.

Dan is die toer amptelik klaar.

Onthou, ons moet nou weer toegangs padbelasting vir Namibie betaal.

Nou is ons ongeveer 300 km van Tsumeb af waar daar ‘n baie lekker Rest Camp is om in te kamp met groen gras – nou iets vreemds. Daar is ook lekker gastehuise en selfs goedkoop back packers oornag plekke.

Nader aan die grens is daar ‘n ruskamp by Ondongwa ook.
Die mense besluit gewoonlik op die grens. Party gaan soms eers Etosha toe. Dis ook naby.

LET WEL.
Hierdie is ‘n wonderlike uitstappie en iets wat jy jou lewe lank sal onthou. Vanjaar is ons ook twee dae langer in Angola, omdat dit so ver is om daar te kom.

Ons prys is R8500.00 per persoon. Kinders 6-12 is R4000.00 en 12-15 is R5500.00.

Buiten dit sal jy baie min geld nodig he. Net omtrent 200 USDollars. Vir brandstof. Ek sal bevestig Ons sal die visums reel. Dis ‘n nagmerrie. Ek neem ekstra geld saam vir ingeval ons ‘n voertuig met teenspoed kry of iets onvoorsiens gebeur.

Ons verwag ‘n 50% deposito per PERSOON by bespreking en die balans by 1 Maart want ek moet die gelde oorbetaal. Dan het julle nie drama met valuta en wisselkoerse nie.

Die Visums kos R800.00 en die agent vra R150.00 Dis R950 per persoon ekstra. As ons die paspoorte moet terug pos, sal dit ‘n ekstra R50.00 wees vir posgeld Dis R1000.00.

Jy kan nie net besluit jy gaan Angola toe nie. Jy moet eers ‘n uitnodiging van iemand daar kry voor jy ‘n vusum kry. Dan is die visums ‘n nagmerrie. Jy moet vir 2 dae vir een visum daar staan. Daarom gebruik ons die agent wat alles reel.

Maar ons sal al daardie reelings vir almal hanteer, MAAR ONS MOET DIE PASPOORTE VOOR 1 MAART HE. Julle moet net asb ons lysie volledig invul en dan die paspoorte met minstens nog twee skoon blaaie in en VIER KLEUR PASPOORTFOTOS vir ons laat kry voor 1 Maart. Die paspoort moet nog ses maande ekstra geldig wees. Jy moet bewys dat jy ,n geelkoors inspuiting gehad het saamstuur vir die visum aansoek.

Skakel asb as jy enige probleme het.

LET WEL!!
Ons karre moet voor en agter ‘n vasmaakplek vir ‘n tou he vir net ingeval.

Ons moet brandstof saamry vir 1000 km gewone pad. Ons eerste brandstof of ,,winkels’’ is eers die sewende dag.

Neem jou geld in kleinerige USDollarnote saam.. Kleingeld kom in hulle geld wat nikswerd is by ons nie.Ons het nog nooit meer as $200 per persoon nodig gekry nie. Net as jy in die Lodge slaap. As jy by die lodge kamp, is dit klaar ingesluit in die toerprys. Brandstof is goedkoop daar. Plus minus R3.00 per liter.

Neem ook saam:Bandepomp en drukmeter, silicon, gaas vir voor die verkoeler vir gras, muskietgoed, Cable ties, minstens 50 liter water per kar en 10 liter water en een sak vuurmaakhout vir die kokke.

Insuleerband, batterye vir die remotes, binddraad, ekstra brandstoffilters spaar olie, remvloeistof, kopseerpille, maagmedisyne, Germoline, flits, graaf, fuses en globes, Q20, Jumperkabels, eetgerei, tent en slaapgoed,handdoeke, toiletpapier, genoeg drinkgoed, Ons sal ‘n kaart met GPS koordinate met die finale instruksies stuur.

Laar weet asb so gou moontlik. Die waglys is lewenslank.

Hierdie toer is soos ‘n vrou se hart --- hard, maar wonderlik!!!.

Groete, Francois. 082 491 5900.

NOG INLIGTING.
Ons ry ongeveer 2000 km in Angola.

By Ruacana gooi ons partykeer die brandstofpompe leeg. Daarom is dit beter om by Oshakati al die ekstra tenks vol te maak en jy kan ook by Ombulanto, sestig km voor Ruacana optop.

Die weer is warm. By die see is die wind soms lastig en die aande vrek koud.

Angola bier is lekker, maar eers by Namibe beslikbaar. Angola ry aan die regterkant van die pad.
Ons eerste petrol is by Namibe, 1000 km van die grens af.

Die mense van Angola is uitgehonger vir sigarette ens. Die kinders soek boekies en skryfgoed. Portugese Bybels is ook iets waarvoor hulle vra en kopseerpille.

Ons sal sorg vir ‘n spesiale Angola windbreker en soek jou grootte saam met die vorms.

Ek sal al die visums reel.Almal moet net sorg dat ek voor /op 1 Maart al die volgende goeters het asb.

Paspoort plus twee afskrifte van die paspoort plus VIER (4) kleur paspoortfotos.

Ook ‘n brief dat jy eiendom in S.A. besit en hier werk. Sodat hulle nie hoef te vrees jy gaan daar probeer bly nie. Maak sommer ‘n brief vir elkeen, anders bewys dat jy getroud is as die vrou nie ‘n brief het nie. Dis belangrik en moet op ‘n briefhoof wees. As jy niks so iets het nie, sal ek help. As jy afgetree is, skryf so ‘n brief en enige rede waarom jy moet terugkom Alles in ENGELS asb.

Dan sal ek die vorm saam met hierdie papiere stuur wat ingevul moet word.

Dan die R950.00 vir die visums plus R50.00 vir die terugstuur van die paspoorte. Ek sal dit dan weer terugstuur met die oornag possak as dit gereed is.

Let wel, Die Angolese kan nie Afrikaans verstaan nie en daarom moet al die briewe in Engels wees.

Dan het hulle my nou net laat weet dat Angola nou besluit het om’n padbelasting van R200.00 per voertuig te hef wat ons by die grens moet betaal. Maak asb voorsiening daarvoor.

INSPUITINGS:
Die enigste inspuitings vir Angola is Geelkoors en slegs elke 10 Jaar. Malaria is nie ‘n faktor waar ons gaan nie.

Groete
Francois
0824915900

Om prente te sien van die Angola toer klik hier aseblief.

 

Home