Home

BAVIAANSKLOOF 4X4

Baie welkom saam met ons op die besonderse ondervinding saam met GOOD YEAR na die Legendes.

Vanjaar is alreeds die 14de jaar dat ons RSG4X4KLUB die Baviaanskloof roete doen en GOOD YEAR borg ons op die 4x4 naweek wat beteken dat dit weereens ‘n treffer sal wees.

DAG 1

Ons kom by die Heroncliff kampplek bymekaar. Die wat gastehuise bespreek het, sal die adresse ook hier kry.

Ry van Port Elisabeth op die pad na Humansdorp vir 30 km. Sodra die pad nouer word, draai af na Hankey, dan Patensie . Maak hier vol brandstof. Ry nog 20 km aan tot waar die grondpad ophou. 100 meter verder is die saal en die kampplek aan die regterkant. Reg langs die pad. Karavane en waentjies is welkom. Daar is genoeg gastehuise ook as jy nie lus het vir kamp nie.

Registrasie is sesuur die middag en ons sal daarna begin kuier vir ete half agt. Alle etes sal by hierdie saal wees.

DAG 2

Ontbyt is half agt by die saal en ons sal half nege vertrek na Oesterbaai waar ons ‘n lekker sandroete gaan ry wat ons sal besig hou vir die hele dag. Padkos word voorsien. Daar is lekker duine en draaitjies wat jou laat lekkerkry. Daar is ook ‘n uitdaagduin waar die braafstes mekaar aanvat tewyl ons ander vir hulle kyk en lag.

Ons sal betyds terug wees om die stof af te spoel vir aandete half agt.

DAG 3

Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege na Flip Fourie se plaas, tien km. van die kamp af. Flip is boeldousermal en het omtrent sestig km. van die beste 4x4 paadjies op sy wildplaas gemaak deur diep klowe en tot op die hoogste rante in die ruie en wonderlike bos en klowe wereld. Hier geniet ‘n man sy hart uit as die 4x4 so lekker vastrap en stadig teen die steiltes uitkruip’ Geen bosse wat die karre krap nie en die ergste steil het ‘n ompad as jy twyfel. Hierdie bly nog die mooiste en lekkerste roete.

Ons sal weer betyds terug wees vir aandete half agt.

DAG 4

Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege na Theo se plaas 3 km van die kamp af. Eerste is dit ,,Theo se Berg”. Dis lekker steil op met die mooiste uitsig van bo af oor die Kouga Dam. Dan is dit die kronkelpaadjie wat ons deur die klowe en teen steiltes af neem tot ons later die Kouga Rivier kruis.
Die mooiste Proteas en fynbos op die berge en die waterstrome en diep klowe laat ‘n mens besef dat hierdie wereld regtig besonders is.

Ons sal die aand weer betyds wees vir ete half agt en ‘n konsert daardie aand.

DAG 5

Ontbyt is half agt en dan vertrek ons op die roete oor die Baviaansberge en reg deur die Baviaanskloof 190 km tot by Willowmore waar ons die grootpad huis toe vat.

Ons stop op die pad by die kabelspoor wat ‘n boer oor die kloof gebou het om sy aartappelmoere mee te vervoer. Dis ‘n hengse onderneming wat hy aangepak het. Al werk hy nie meer nie, is die kabels nog daar.

Die Baviaanskloof is regtig pragtig en die paadjie is nie wonderlik nie en pas ons 4x4 voertuie baie goed. Elke keer as ek deur hierdie kloof met sy rotsformasies en natuurskoon ry, betower hy my van voor af.

LET WEL

Mense wat wil kamp, moet hulle tente, kampgoed ,stoele, en warm klere saambring.

Daar is genoeg gastehuise, want Flip Fourie het syne reg op die rand van die kloof uitgebrei.

Gastehuise is ekstra. Party is goedkoper, maar eerste kom, eerste gehelp. Om verwarring te voorkom, sal Estelle Kok die gatehuise reel. Skakel haar direk by 042 283 0739 of sel 082 774 1805.

Almal moet stoele saambring, omdat die saal nie genoeg het nie, en ‘n klein tafeltjie as jy het.
Bring ook handdoeke, toiletpapier, flits, kamera, sonbrandgoed, banddrukmeter en pomp en ‘n sleeptou as jy het. Net vir ingeval.

Daar is nie drank en koeldrank beskikbaar nie en jy moet jou eie saambring.

EKSTRA

Alle etes ingesluit. Padkos, roetes, gidse en alles.
Hierdie gaan ‘n 4x4 fees wees! Ons getalle is beperk. Bespreek vroegtydig,

Die koste is R3000.00 per persoon in die gastehuise en R 2500.00 as jy kamp.
Ons sien uit om almal daar te sien.

Groete, Francois. 0824915900

Om prente te sien van die Babviaanskloof toer klik hier aseblief.

 

Home