DIE RSG4X4 TOER NA DIE SWARTBERGE, HEL EN ATTAQUASKLOOF 2010
Omdat petrol so duur raak, het ons hier ‘n paar roetes bymekaar gesit om die afstand wat ons moet ry om daar te kom, die moeite werd te maak.
Ons eerste aand kom ons bymekaar naby Prins Albert en ons maak klaar op die pragtige Hartenbos. Intussen ry ons tot diep in die Hel, Op die kruin van die Swartberge en deur die ou Attaquas ossewaroete. ‘N hele ervaring wat ons seker net hierdie een keer sal kan doen. Ons sal al die etes, padkos en elke aand akkommodasie voorsien, sodat ons nie kampgoed hoef saam te ry nie.
DAG EEN WOENSDAG 17 NOVEMBER
Ons kom almal by Prins Albert bymekaar.
Ons bly in verskillende gastehuise en sal die ou dorpie volmaak. Ons eet almal saam by die skougronde op die dorp waar Johanna Luttig vir ons gaan uithang met die lekkerste kos waarvoor sy bekend is. Dis ook waar ons ontbyt. Daar is geen drinkgoed behalwe koffie en tee nie, so, jy moet vir jou eie drank sorg.
DAG TWEE 18 NOVEMBER
Ons ontbyt half agt by die skougronde en vertrek half nege. Maak seker dat jy vir elkeen in die voertuig ‘n kospakkie vat.
Dan gaan ons deur die skilderagtige dorpie Prins Albert. Daarvandaan pak ons die Swartbergpas aan.
Ons stop onder by die ou tronk waar die bandiete aangehou was wat die pas gebou het.
By die mooi plekke stop ons vir die wat wil fotos neem. Amper bo draai ons Suid af in die Hel in. Dis eintlik Gamkaskloof, maar in die tye voor die pad deur Koos van Zyl in 1962 gebou was, was dit hel om daar uit te kom.Hierdie pas is baie mooi en iets wat ‘n mens moet sien.
Ons gaan kyk na die ou gedeeltes waar die mense gewoon het. Daar is ou landmerke om te sien en selfs die oorblyfsels van die eerste motor, ‘n Morris 8 wat voor die pad se tyd deur die kloof ingedra was in die Hel in. Ons bly die aand by die kampplek naby Annetjie Joubert se winkel. Hulle gaan ook vir ons die regte boerekos maak vir aandete. Hulle gaan spesiaal vir ons tente opslaan, sodat ons nie hoef te sukkel nie. Daar sal matrasse en beddegoed wees, maar dis alles baie basies. As jy ‘n ,,stretcher’’ wil he, sal jy hom self moet saambring. Vat dit soos jy dit kry!. Daar is ablusieblokke met warm water. Dit is so ‘n ervaring om in die Hel te kan slaap, dat ons maar daardie aand ‘n bietjie gerief sal moet opoffer.
Aandete is half agt en daar sal van die kontrei se beste wyne wees om te koop met geen beswaar as jy jou eie drank saambring nie.
DAG DRIE VRYDAG 19 NOVEMBER
Ontbyt is weer half agt en onthou om jou kospakkie te vat.
Vanoggend na ontbyt gaan ons weer die kronkelpaadjie van die pas op tot bo waar ons by die Swartbergpas aansluit. Nou ry ons tot by die kruin van die bergpas waar ons op die verbode paadjie reg op die kruin van die Swartberge draai. Dis ‘n ou militere paadjie wat vir 34 km reg op die kruin van die berg loop met uitsig oor die mooiste gebied van die land. Ons het ook baie spesiale permitte bekom om daar te mag ry. Daar is baie min mense wat weet van hierdie paadjie en om toestemming te kry om hier te ry was ‘n ding.
Hierdie paadjie is heel rybaar tot by die Gouekrans stappershut op die 30 km merk. Die laaste 4 km is moeiliker, maar die mense wat nie lus het vir die sukkel nie, wag almal by die hut, omdat ons weer dieselfde pad terugkom. Dit is verskriklik mooi hier op die berg en dis wonderlik om die paadjie in die ander rigting ook te kan ry, omdat die berge dan heel anders lyk.
Nou gaan ons teen die ander kant van die Swartberge af en bly die aand in die chalets by De Hoek vakansieoord. Ons eet die aand by Cobus Se Gat aan die voet van die pas en tien km van ons blyplek af. Hierdie is nou ‘n ondervinding wat jy altyd sal onthou. Dis ‘n kontreiplek met regte bergkultuur.
Elkeen gaan op sy eie terug slaapplek toe, want ek gaan sukkel om julle hier weg te kry.
DAG VIER SATERDAG 20 NOVEMBER
Ons staan op en pak. Ons vertrek half agt en dan ry ons tot in Oudtshoorn waar ons by die Monte Cristo gastehuis gaan brunch eet. Dis ‘n pragtige plek en ons sal dit geniet.
Na ontbyt ry ons verder tot by die Robinsons Pas waar ons wegdraai op die ou Attaquas ossewapad wat die enigste transportroete was van Mosselbaai Karoo toe in die agtienhonderds. Ons stop by die oorblyfsels van die destydse herberg aan die voet van die pas en dan weer by die plek waar die ossewaens na die pas herstel was. Daar tussen die gras le nog gebreekte ossewa aste en dele, omdat dit nie ‘n maklike pas was nie. Vir ons 4x4 voertuie is die paadjie kinderspeletjies, maar die swaar vragte het sy tol ge-eis onder die waens. Op die roete is die oorblyfsels van die ou watermeul waarmee hulle die koring gemaal het in daardie tyd.
Bo teen die pas is nog die ou blokhuis waar die Engelse in die oorlogtyd die verkeer gemonitor het. Anderkant af is ook ‘n ding en daar is ook ‘n gewese ossewawerkswinkel en oorblyfsels van ‘n herberg. Hierdie roete is so spesiaal en baie min mense weet daarvan. Die pas eindig op die gasteplaas Bonnidale waar ons iets gaan eet.
Nou draai ons deur die bewaringsgebied op ‘n small paadjie wat ons terugneem deur Paardekop plantasie tot by die Ruitersbos skool waar ons by die ou Robinsonspas teerpad aansluit.
Nou is dit 45 km tot by Hartenbos waar ons die aand in die ATKV oord in chalets bly.
Ons gaan sommer in die SPUR in die oord eet. Die ete is ingesluit en jy moet net jou eie drank hier koop.
DAG VYF SONDAG 21 NOVEMBER
Sondagoggend gaan ons in die Wimpy ‘n ontbyt eet en dan is dit tyd om die pad huis toe te vat..
Hierdie is ‘n eenmalige roete en ons het probeer om al die slaapplekke te reel. Vir die aand in die Hel het ons ‘n ou gekry om vir ons tente te kom opslaan met matrasse en beddegoed. Die etes is spesiaal en ons gaan daardie deel van die land tot in sy diepste gate bekyk. Nog nooit kon iemand die roete soos ons dit nou doen, op een slag belewe nie.
Bring julle eie handdoeke, flitse, toiletpapier, kamera, drinkgoed, bandepomp en drukmeter. Bring jou kampstoel vir die kuier langs die vuur die aand in die Hel.
Die koste van die trip is R3600.00 per persoon wat alles insluit soos slaapplekke, al die etes en padkos, gidse, permitte vir die bergroete en ook die Attequaskloof, gidse, ens.
Ons veskaf tweerigting radios. Sorg dat daar ‘n oop aanstekersok is om dit in te prop.
Bring peuselgoed vir die pad. Werk uit hoeveel drinkgoed jy gaan nodig he, maal dit met twee en tel 50% by.
Oom Zannie van der Walt wat die natuurbewaar-bestuurder van die Hel was en ‘n legende is, gaan ‘n groot deel van die tyd saam met my ry en sal al die stories van die Hel sommer so in die ry oor die radio vertel.
Annetjie Joubert wat ‘n legende van die Hel is, gaan persoonlik saam met ons kuier die dag daar en sy het die beste droevrugte en ingelegde vrugte en konfyte wat ons daar kan koop.
As jy ‘n dag of twee wil agterbly in Hartenbos, bespreek by 044 601 7200 en praat met Lorette of Karin en noem dat jy deel van die RSG4X4KLUB is.
Brandstof is elke 200 km beskikbaar op die roete.
AKKOMMODASIE IS BEPERK, ONS WERK OP “1STE DEPOSITO KRY PLEK”.
GROETE
FRANCOIS
MY NOODNOMMER 0824915900.