Home

DAL VAN DOODSKADU IN DIE NAMIB: 4 – 9 JULIE 2010

Hierdie is ‘n baie unieke en eksklusief net vir RSG4X4KLUB toer. Ons gaan ‘n deel van die Namib sien waar nog net ‘n paar mense ooit was wat wel daar uitgekom het. Toemaar, ons vat alles nodig saam om almal deur te help as dit nodig is.

Omdat ons naby Sossusvlei bymekaarkom, beveel ek sterk aan dat die wat kan, ‘n dag vroeer kom sodat ons daardie landmark op eie stoom kan besoek.. Die kampplek sal gereed wees waar ons bly.

DAG EEN SONDAG 4 JULIE

Ons kom by die kampplek naby Soliter bymekaar . Ons sal op die finale instruksies die presiese plek gee.

DAG TWEE MAANDAG 5 JULIE

Ons ry tot in die Kuisep Rivier canion. Dan volg ons dit tot ons die aand in die canion kamp maak.

DAG DRIE DINSDAG 6 JULIE

Ons verlaat die canion en gaan oor Homeb na die massiewe duine op pad Conceptionbaai toe. Ons ry Oos-wes deur hierdie duine en duinstrate tot ons sommer die aand tussen die duine kamp maak.

DAG VIER WOENSDAG 7 JULIE

Ons ry oor die Duinesee gedeelte tot ons die harde banke kry. Dan besoek ons die vervalle, verlore Duitse myndorpies wat uit die begin van die vorige eeu dateer. Ons slaap die aand by die Leeukoppie kamp van Uri. Moenie dat die woord ,,kamp" jou flous nie. Daar is net ‘n toilet.

DAG VYF DONDERDAG 8 JULIE

Ons vleg deur die lekker duine tot by Conception baai. Ons gaan kyk na die wrak van die meer as honderd meter lange Edward Bolen, die skip wat in 1909 daar gestrand het en nou al amper ‘n kilometer van die water af le soos die sand op die strand opbou. Daarvandaan ry ons strandlangs tot by die Shawnee, die Amerikaanse sleepboot wat in 1075 daar gestrand het. Ons slaap die aand in die duine aan die voet van die deel wat bekend staan as die ,,DAL VAN DOODSKADU’’

DAG SES VRYDAG 9 JULIE

Dis die dag van verrekening. Ons gaan deur die dal van doodskadu met diep gate tussen die duine wat ‘n mens lekker kan besig hou. Hier werk die baas en die 4x4 ewe hard.
Ons kamp by Uri se Sandvis ,,kamp’’

DAG SEWE SATERDAG 10 JULIE

Vandag is die ,,Longdrop op die spyskaart. Dis ‘n 120 meter hoe duin waar jy stadig afgaan tot halfpad en dan vet gee. Die onderkant is glad rond en jy moet hom teen so 110 km/uur slaan om weer die duin anderkant uit te kom. Toemaar, ons het ‘n laaaaang sleeptou vir as jy dit nie maak nie. Daar is nog so ‘n paar grotes wat jy vir die res van jou lewe sal onthou.

Ons slaap die aand by Lauberville in die Kuisep. Dis ‘n vroeere kamp van die veiligheidspolisie en naby ‘n harderige pad. So, ons kan vanaand maar weer bande pomp

DAG AGT SONDAG 11 JULIE

Ons vertrek die laaste 30 km na Walvisbaai waar ons na 550 km weer brandstof kan kry.

LET WEL!
Die prys van die toer is R7000.00 per persoon. Kinders onder 6 gratis. Laerskool ¼ en hoerskool ½ prys. Dit sluit alle etes ook in, plus gidse, konsessies en die eerste en laaste aande se kampplekke. Vir meer as een kind, onderhandel met my.

In totaal ry ons 580 km.

Voertuie gaan swaaaar wees op brandstof. Dubbel soos op die pad en nog meer. Ons sal by Soliter moet volmaak voor ons bymekaarkom.

Ons neem ‘n span gidse saam wat help as ons sukkel. Hulle het al die herwinningstoerusting en storte en toilette by hulle. Sorg dat jou voertuig ‘n vasmaakplek voor en agter het vir die sleeptou.
Ons neem ook die kokke saam wat drie etes per dag voorsien. Bring genoeg drinkgoed saam. Die woestyn maak jou dors!!.

Elke voertuig moet asb een sak hout saambring vir ons kampvuur in die aande, en tien liter water vir die kombuis.

Ons neem ‘n stort saam. Bring jou eie water. Die kokke maak dit warm by die vuur.

Bring eetgerei, kampgoed, drinkgoed, sonbrandgoed, banddrukmeter en pomp, warm klere vir saans, ekstra olies, water, toiletpapier, handdoek, aansteker vir die toiletpapier, grafie en ‘n hoed en sonbril.

Ek maak my tentpenne van 900 mm droppers wat en deursny vir 2 x 450 penne.waarvoor ek oortjies aansweis.

Jou voertuig moet reg wees. Geen split rims met binnebande nie. ,,Low range’’ is noodsaaklik.

  Home