ERVARING BY DRAKENSVILLE IN NATAL 3 – 6 JUNIE 2010
‘n Paar jaar gelede het ek saam met die destydse eienaar van Drakensville, Jaco Maree, ‘n hele opname gemaak van die 4x4 roetes in hulle omgewing. Dit was pragtig, maar die boere het probleme gehad met die quads en veldmotorfietsryers wat hulle hekke oopgelos en diere verskrik het. Toe is die plek verkoop aan die ATKV wat alles opgradeer het.
Ek wou nog altyd die Retiefpas en Mikes Pass vir die mense gaan wys.
Nou het Tina van die Morester Kinderhuis met die boere gaan praat en almal werk nou saam en stel hulle roetes oop vir die drie dae 3 de tot 6de Junie slegs vir ons RSG4X4KLUB. ‘n Gedeelte van die gelde wat ons normaalweg vir die roetes betaal, skenk hulle aan die Morester kinderhuis. Drakensville gee ook ‘n persentasie aan hulle.
Nou gebruik ons die kans om die Drakensberge van affiepad se kant af te gaan bekyk op die 4x4 roetes.
Ons gaan al die aande op dieselfde plek bly in huise. Daar is drieslaapkamerhuise met een badkamer en eenslaapkamer woonstelle en suite wat effens duurder per persoon is. Dit is egter beperk.
DONDERDAG 3 JUNIE 2010
Ons kom op ons eie tyd deur die middag by Drakensville, DIE ATKV-OORD, bymekaar. Elkeen sal sy blyplek se sleutel by ontvangs kry.
Ons kom sesuur by die eetsaal bymekaar wat op die kaart aangedui is wat jy saam met jou sleutel by ontvangs gekry het. Hier sal al ons etes bedien word.
VRYDAG 4 JUNIE 2010
Ontbyt is agtuur en ons vetrek negeuur. Net voor ons vertrek sal ons vir elke voertuig ‘n tweerigting radio leen. Sorg dat jou 4x4 ‘n oop aansteker sok het daarvoor.
Ons ry na Sollie Prinsloo se plaas waar die geskiedkundige Retiefpas begin waar die ossewaens diep slote in die rotes ingekerf het. Die voortrekkers is hierlangs toe hulle op 14 November 1836 Natal toe getrek het.
Ons sal nog die ossewaspore in die sandsteen sien. Dan gaan ons na die monument van die Kaalvoetvrou. Susanna Smith, suster van Gerrit Maritz het destyds Natal toe getrek, maar toe sy daar kom, was die Engelse in bewind. Sy het toe gese sy sal liewer weer kaalvoet terugstap voor sy onder Britse bewind sal bly. Wat sy toe ook gedoen het.
Die monument is ter gedagtenis aan haar opgerig.
Middagete sal hier naby in die veld bedien word.
Na ete pak ons die res van Retiefpas aan en ry verder oor Sollie se plaas.
Hier is ‘n foefiekabel van 120 meter waarmee ons oor die dam kan gly. Jy word in ‘n harnas vasgemaak om afval te keer. Dis groot prêt vir die wat wil.
Aandete gaan ‘n lekker saamkuier wees in die lapa. Daar is ‘n vermaaksentrum vir die kinders.
SATERDAG 5 JUNIE 2010
Dit gaan ‘n lang dag wees . Daarom begin ons 6-30 in die lapa met koffie en beskuit wat die tannies van die omgewing maak.
Ons vetrek al 7-30 na die Cathedral Peak valley in die Ezembvelo Natuurreservaat (Didima) waar Mikes Pass begin.Hierdie pas bied ons die mees dramatiese uitsig oor die Drakensberge. Die pas is vernoem na Mike de Villiers wat die pas gedurende die oorlog van 1940 gebou het met die hulp van Italiaanse krygsgevangenes.
Met die asemrowendste uitsig oor Mikes Pass en die drakensberge gaan ons hier die indrukwekkenste oomblikke beleef terwyl ons ons brunch geniet en piekniek hou.
Nou pak ons die aftog teen Mikes Pass aan tot ons by een van die interessantste karakters van die gemeenskap kom.
Hy woon in ‘n helicopter wat hy self gebou het en as vishelikopter wil patenteer. Hy is mal oor vliegtuie en bou die pragtigste modelle uit olieblikke uit wat hy verkoop . Sorg dat jy ‘n Rand of wat by jou het, want jy sal self een wil he.
Vir die wat nognie genoeg gehad het nie, is hier ‘n kans om ‘n sewemeter absail aan te pak teen die kranse af.
Aandete sal seweuur in die eetsaal wees. Ons gaan nou ook pryse uitdeel, konsert hou en grappe maak.
SONDAG 6 JUNIE 2010
Ontbyt is agtuur en dan ry ons net sewe km. tot by die New Beginnings Waterval wat op privaat grond gelee is.
Hier kan ons ook party van die San rotstekeninge sien wat deel vorm van die meer as 400 rotstekeninge in die Drakensberge.
10 uur gaan ons ‘n kort kerkdiensie hier in die berge hou deur ds Gerhard van die kinderhuis. Ons kan ons eie kampstoele saambring, of sommer langs die stroompie op die gras sit.
Ons vertrek nou terug huise toe, maar die wat nie haastig is nie is welkom om hulle boogskiet vermoens te beproef, of selfs nog ‘n aand oor te bly.
Hierdie is nie ‘n 4x4 rykompetisie nie, maar ‘n kans om die Drakensberge uit ‘n heel ander hoek te bekyk van plekke af waar ‘n gewone voertuig nooit sal kom nie.
Bring net jou 4x4, klere, drinkgoed, flits, handdoeke, kamera, toiletpapier, kampstoel vir Sondag en bandepomp en drukmeter.
Die koste is R3100 per persoon in die 2 slaper woonstelle en R2900 vir die sesslaper huise. Kinders: As hulle die ouers se kamer deel: 3jr en onder is gratis, 4 – 7 jr R200, 8 – 11jr R650.00, 12 – 15jr R1500, 16jr en ouer R2400 as hulle nog op skool is.
Eerste kom, kan eerste kies.
Dit sluit die akkommodasie, roetes, al die kos en padkos, gidse, toegange en aktiwiteite by die oord in.
As daar enigiets oor is, gaan dit aan die Morester kinderhuis op Harrismith.
Die Morester Kinderhuis huisves 155 kinders tot 18 jarige ouderdom.
Dis almal kinders wat deur die hof in sorg geplaas is en geen heenkome of geld het nie en soms erg mishandel was.
Klere en toiletware is baie welkom as ons wil saamneem vir hulle.
Groete Francois