Home

SAHARA 4X4 EN EGIPTE ERVARING 2010

Daar is vier basiese toere vir toeriste in Egipte. Dis die Woestyn, beperk in ‘n 4x4 bus, die treintrip Awan toe, die boottrip op die Nyl en die toer na Hurgada op die rooi see.

Vir hierdie toer het ek die bestes van alles bymekaar gesit en almal gekombineer, omdat die vlugkaartjies so duur is, dat jy nie gou weer sal wil gaan nie.

Ons vorige twee toere Egipte toe was ‘n absolute fees gewees en ons het vir vanjaar net ‘n paar dingetjies verander soos wat die ervaring vereis. Ons gaan ook vier dae langer in Egipte wees, omdat ons in die verlede te veel gejaag was.

Veral die geriewe in die Sahara het ons opgradeer en meer gerieflik gemaak. Die koste van die vlugte, visums en die wisselkoers knou ons ‘n bietjie, maar ek het my heel beste gedoen om alles in te pas.
Hierdie toer neem ons op ‘n Sahara ervaring ongeken vir vyf dae saam met ‘n toer deur Egipte met dinge wat ons nie geglo het moontlik kon wees nie. Dis Afrika en ons moet bereid wees om soveel moontlik in daardie tyd te ervaar. Ons gaan besig wees !!.

Ons het die Dubai gedeelte weggevat, want die ekstra vlugkoste en verblyf vir die twee dae is nie die moeite werd nie. Dubai is besig om hulleself uit die mark uit te prys.

DAG EEN - 18 Oktober
Ons vertrek die aand negeuur vanaf Oliver Thambo lughawe. Ek sal die vlugnommers en fyn detail later gee, maar ons sal half ses moet inboek. Dan vlieg ons direk na Kairo, waar ons ongeveer negeuur die volgende oggend aankom. Dis raadsaam om so ‘n honderd Dollar hier om te ruil vir Egiptiese Ponde.

DAG TWEE - 19 Oktober
Ons kom ongeveer negeuur die oggend by Kairo lughawe waar ons gids ons kry en per bus op ‘n toer deur Kairo en dan na ons hotel toe neem. Ons kry ons kamers en boek in.

Nou gaan ons ‘n bietjie rus, want vanaand gaan ons op ‘n Sunset Dinner Cruise op die Nyl. Dit sal ook ons eerste kennismaking wees met die Egiptenare se nooit stop program. Hulle rus nooit en dag en nag is om’t ewe. Die winkels sluit nooit en die verkeer hou net aan en aan.

Ons sal eers baie laat op die baie groot en luukse boot met vier restaurante en Tipiese Egiptiese volksang en Belly Dancers klim en na middernag terugkom by ons hotel. Dis egter so deel van die Egiptiese kultuur dat ons dit nie mag mis nie.

DAG DRIE - 20 Oktober
Ontbyt is seweuur in die hotel en dan neem die bus ons na ons voertuie waarmee ons self bestuur deur die Sahara. Ons sal vier persone per voertuig ry en dan nog in party voertuie ‘n Egiptiese gids. Hulle laai op die dak en oral, want ons neem alles vir vyf dae in die woestyn. Hulle voorsien alles en ons neem net ons klere .

Nou vertrek ons uit Kairo uit en ry omtrent 350 km reg wes op die hoof olieveld teerpad tot by die Baharia Oase waar ons die aand sommer in die veld kamp maak.

Daar is ‘n stroom warm water wat naby ons uit die grond gepomp word wat ‘n lekker badplek maak. Die oase is groot met baie winkels, kokos boerderye, vervalle huise en nogal baie mense. Ons aandetes sal almal laat wees omdat die kokke saam met ons ry en dan eers moet begin kook. Daarom gee hulle middagetes ook.

As ons betyds is sal ons vandag, so nie more, die Griek Beniteo se graf en die warm bron van El Mattar en Ain El Beshmo besoek.

DAG VIER - 21 Oktober
Na ontbyt gaan ons na die ,,winkels’’ terwyl die Egiptenare ons brandstof volmaak.

Nou vertrek ons verder met die teerpad tot by die Kristalberg. Dis ‘n hoogtepunt met kristalle wat die berg se bokant bedek.

Hier verlaat ons alle tekens van ‘n pad en vaar die Swart Woestyn in net op die genade van Hisham, ons baie bedrewe gids se ervaring en sy GPS.

Ek waarborg julle dat ons hier gaan begin leer om in die heel anderster kalsiet vlaktes van die Sahara te bestuur.

Ons ry verby Aquabat en Wadi Hinis tot by die oase van Ain Kahdra. Dis ‘n klein koppie met ‘n paar palmbome in die stroompie water wat reg op die koppie uitkom. Die water loop in die eerste ronde dammetjie. Hierdie water moet skoon bly vir drinkwater vir die kamele en die mense wat verby kom. Dan loop die water in die tweede dammetjie waar daar gewas en bad word. In die derde dammetjie was hulle klere en dan verdwyn die water in die sand. Daar woon niemand by hierdie oase nie.
Afhangende van tyd, sal ons hier naby kamp of verder in die woestyn, sommer so onder die sterre op die sand.

DAG VYF - 22 Oktober
Vandag ry ons deur die los sand van die Wit Woestyn. Dit is ‘n sprokiesland van kalsiet formasies en die los sand gaan ons weer iets leer. Daar is gelukkig Egiptenare wat die wereld ken, saam met ons, maar nou is ons baaaie diep in die woestyn. Die kalsitformasies is hoog en lyk soos paddastoele of feetjiekastele vir honderde kilometers aaneen.

Ons gaan na die klein El Serw Oase en sal die nag in die woestyn tussen die wonderlike Canions op die sand kamp by El Khabour. Glo my, sulke natuur het ons nog nooit gesien nie. Dis ‘n wonder oase en hoe meer mense daar kom, hoe sterker raak die water. As ons weer weggaan, word die stroompie weer net ‘n vingerdikte. Die Oase bestaan egter net uit omtrent tien palmbome en die drie tradisionele dammetjies.

DAG SES - 23 Oktober
Vandag kom ons by die oase van Farafra aan. Hier is baie om te sien, asook ‘n lekker warmbron met swembad. Daar is die Badr museum en die Qasr van Farafra om te sien.

Ons bly die aand in die Aquasun hotel. Naby die hotel is daar ‘n lekker natuurlike stroom warm water waar ons swem en omtrent vier kilometer verder is die dorpie waar party die aand gaan kuier en ,,koop’’

DAG SEWE - 24 Oktober
Vandag vat ons die laaaang pad terug Kairo toe. Dis gelukkig ‘n teerpad, want by nou het ons genoeg van sand en stof gehad. Ons ry weer verby die Baharia Oase en sal eers laat middag by ons hotel in Kairo terug wees. Glo my, om in Kairo te bestuur is nag en dan sit die stuurwiel nog aan die verkeerde kant en ons ry regs. Maar dis ‘n ondervinding.

DAG AGT - 25 Oktober
Die bus kom haal ons by die hotel, klaar gepak met bagasie en al.

Ons gaan vir ‘n toer deur Kairo. Die piramides , papyrus fabriek en nog baie om te sien. Omdat dit nooit hier reen nie, is alles vuil en vol stof.

Ons eet middagete in ‘n tipiese Egiptiese restaurant soos hulle mense en nie die toeriste nie, dit doen.

Ons gaan museum toe en dan die Khan El Bazaar, mark waar enigiets en alles te koop is. Dis enorm en noodsaaklik. Hier koop ons elkeen vir ons ‘n tipiese Egiptiese ,,rok’’ om een aand op die Nylboot te dra as ons ons tipiese Egiptiese partytjie saam met die boot se kaptein hou. Hier stoei njy elke prys af tot onder die helfte.

Nou neem die bus ons stasie toe.

Ons ry deur die nag met die trein 800 km tot by Aswan. Dis die luuksste trein in Egipte, maar dis nog steeds baie basies, maar ‘n ondervinding van ‘n leeftyd.

DAG NEGE 26 - Oktober
Ons ontbyt op die trein – baie basies en kom ongeveer tienuur by die stsie op Aswan aan.

Die bus kry ons by die stasie .

Nou gaan ons vir die dag uit vir ‘n besoek aan Abu Simbul. As ons terugkom, boek ons in ons hotel in waar ons die nag oorbly.

Daar is baie dinge om in die aande in die stad te gaan kyk en onthou, die winkels maak nooit toe nie.

DAG TIEN 27 - Oktober
Na ontbyt tel die bus ons op en ons gaan laai ons goed op die super luukse Nyl Cruise boot af wat ons yuiste sal wees vir die volgende drie dae. Dan gaan ons verder vir die dag met die bus.

Ons besoek die Aswan Dam – 500 km lank—en die halfgeboude temple.op die eiland op die ou dam.

Nou gaan ons na die Nubian Village, die onvoltooide obelisk en dan na terug na ons boot.

DAG ELF 28 - Oktober
Ons seil vroeg more uit Aswan uit terwyl ons nog slaap.Ons stop en gaan kyk na die enorme Egiptiese Kom Ombo temple ruines en kyk die Edfu temple.

Ons sal die nag op die boot oornag. Ons sal deur die loop van die nag by Luxor aankom.

DAG TWAALF - 29 Oktober
Ontbyt is vroeg op die boot en ons kom 9 uur in die lobbie bymekaar om die bus te haal.

Ons gaan na die Wesbank by Luxor kyk. Dis die bekende Valley of the Kings met al die grafkelders waar die mummies en kobaarhede ontdek is. Ons sal terug wees vir middagete op die boot. Die middag is ons vry vir ontspan op die boot, maar die meeste gaan toer deur die strate met een van die honderde perdekarretjies. Daar is duisende plekke om aandenkings te koop. Of lekker ontspan op die dek.

Vanaand hou ons ons eie Egiptiese partytjie en trek ons Egiptiese rokke aan wat ons gekoop het. Dis baie spesiaal.

DAG DERTIEN - 30 Oktober
Na ontbyt verlaat ons die boot en gaan na ons hotel die HOTEL PARAMISO waar ons die nag gaan bly. Nou is ons op ons eie vir die dag. Daar is verskeie opsies soos ‘n trip met die Felucca bootjie na die ,,Banana Island’’ of ‘n toer deur die stad of besoek aan die kunsgallery. Hier is papirusfabrieke teen ‘n tiende van die prys in Kairo.

Ons kom sesuur die middag in die lobby van die hotel bymekaar vir die Sound and Light show by die temple van Karnak. Hierdie is so spesiaal en ‘n moet om logika uit die Egiptiese geskiedenis te kry.
Daarna kom ons terug hotel toe.

DAG VEERTIEN - 31 Oktober
Ons word half agt opgetel vir ons bustrip deur die woestyn per bus in konfooi tot by ons hotel in Hurgada langs die rooi see.. Die trip neem net oor die vyf ure.

Ons hotel in Hurgada is superluuks en ongelooflik mooi met die beste griewe.

As ons by ons hotel kom, is ons vry om in die Rooi See by die hotel te swem of in een van die hotel se swembaddens. Nou is ons by die warm, vakansieplek Hurgada.

Dis wonderlik hier met oor die 360 nuwe hotelle in aanbou.

Aandete is ‘n buffet gewoonlik met bier en alles op die huis.

DAG VYFTIEN - 1 November
Vandag spandeer ons op die rooi see sonder branders en wind.

Ek het die trip op die Rooi See na die Gifton eiland en die riwwe in die glasboomskuit as deel van die toer gereel, omdat dit in die verlede ekstra opsioneel was en die mense wat nie gegaan het nie, baaaaie spyt was. Die wat wil snorkel, kan die toerusting daar huur.

Aandete is weer ‘n buffet in die hotel.

DAG SESTIEN - 2 November
Vandag is ‘n ekstra dag wat ek ingesit het omdat dit so mooi is hier en party mense in die rooi see reg by die hotel wil swem. Ander wil winkels toe gaan om kaggelkakkies te koop om huis toe te neem. Daar is soveel om te doen, of net die luukse van die hotel met sy swembaddens en kroegies te geniet.

Aandete is weer die ongelooflike buffet.

DAG SEWENTIEN - 3 November
Dis ‘n laaaang dag.

Na ontbyt sal ons by die lobbie bymekaarkom om lughawe toe te gaan. Daarvandaan vlieg ons terug Kairo se binnelandse lughawe toe.

‘N bus sal ons daar optel en 40 km na die internasionale lughawe toe neem.

Ons vlug behoort eers middernag te vertrek. Hierdie etes op die lughawe is nie ingesluit nie, maar daar is lekker eetplekke by die lughawe. Ons kan ook die orig Egiptiese Ponde hier omruil.

DAG AGTIEN - 4 November
Ons behoort tussen nege en tienuur die oggend op die OR Tambo lughawe terug te wees.

LET WEL
Neem jou sakgeld in Amerikaanse Doller in klein denoninasies saam. Geld omruil is nog die beste op die lughawe.

In die verlede was die toer net basies en ons moes ekstra betaal vir al die ekstras wat die mense se sakgeld opgeeet het.

Daarom het ek die hele toer met drie etes per dag gereel.

Ook die ekstras soos die dinner cruise, die dag op die glasboomskuit , die sound and light show , die bus tussen die lughawens, en al daai dinge is deel van ons toer en die koste is reeds by die toer ingereken.

In Egipte kry die toeristewerkers baie min geld en lewe hulle maar hoofsaaklik op fooitjies. Dis ‘n ding wat my mal maak. Ek het dus dit klaar by die toerprys ingesluit om die verleentheid by ons groep te spaar as die ou ‘n ,,tantrum’’ gooi omdat jy hom te min gee.

Die visums is ook ‘n klomp geld en daardie koste is ook ingesluit in die trip. Alhoewel die gewone toere nie te duur is nie, verdubbel jou bedrag as jy al hierdie goed bysit.

Egipte is warm. Neem net ligte klere saam met een warm ding vir die laataande. Neem gemaklike skoene saam. Ons stap nie baie nie, maar die winkels verlei ons vir baie kilometers. Neem ‘n handdoek saam. Veral in die woestyn en toiletpapier. Drank is teen die geloof van die Egiptenare en dus nie oral beskikbaar nie., maar veral skaars in die woestyn en as jy iets nodig het vir die eerste paar dae in die woestyn, moet jy my laat weet, sodat ons kan reel.

Ons koste is R 29 000.00 met alles ingesluit. Dit sluit alles en ook die vlugkaartjies heen en weer en van Hurgada na Kairo in.

‘N volledige lys van alles wat moet saamgaan, sal ek nader aan die datum stuur, maar dis baie min.

Dit mag raadsaam wees om ‘n geelkoors inspuiting te kry as jy nie een gehad het nie. Dis hou tien jaar.

Ek het die wisselkoers uitgewerk op R7.50 per Dollar. As hy drasties verander, sal ons aanpas. Ek probeer so vroeg as moontlik alles oor te betaal, voor die sokker se naloop die Rand verswak.

Lekker toer.
Groete, Francois.
0824915900

 

Home