VRYBURG TOT FRYLINCKSPAN 4X4 WEGBREEK
Hierdie is een van daai toere waar ons op ‘n 4x4 ekspedisie gaan om die wereld te sien sonder om die paaie te gebruik. Ons ry in die rivierlope langs en sukkel verby die moeilike plekke sonder om spesifiek uitdagings te gaan soek. Uiteraard sal daar plekke met verskillende opsies wees sodat die ouens wat wil hulle eie moses kan soek. Genoeg daarvan, terwyl ons gewone mense die makliker roete vat. Veral die duine by Severn sal ons genoeg kans vir speel gee, en dan natuurlik daaaaaai duin by Freylinckspan.
Ons gaan deur verskillende Tswana stamgebiede, maar het vooraf ‘n tarief met hulle ooreengekom wat ingesluit is in die tripkoste.
Die roete bestaan hoofsaaklik uit die droe rivierloop van die Mashowing rivier vir 46 km. wat ons twee dae lank gaan besig hou.
Dan gaan ons verby Sevirn en Battlemount waar ‘n paar lawwe duine ons gaan besig hou. En die manne met die sterk harte hulleselwers kan bewys.
Dan ry ons tot by Frylinckspan waar daar een groot duin is waar ons ‘n uitdaging gaan hou.
DAG 1
Ons kom almal by BOEREPLAAS vakansie oord bymekaar. Dis 15 km. uit Vryburg uit op die Stella pad. Maak brandstof vol op Vryburg.
Daar is ‘n swembad, glybane, restaurant, kroeg en ook chalets as jy nie wil kamp nie.
Registrasie is half ses die middag en aandete is half agt.
DAG 2
Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege na Mashowing 145 km verder.
Daar pak ons die rivierroete waar ons ons sandryvermoens gaan beproef. Dis lekkerrr los sand en as dit sou reen, word dit net lekkerder. Ons sal genoeg kans kry om ondervinding op te doen vir die uitdagings vorentoe, maar daar is ontsnaproetes waar dit rof raak.—vir die wat wil.
Ons slaan die aand sommer op ‘n bree plek in die rivier kamp op naby Battlemount.
Aandete is half agt.
DAG 3
Ontbyt is weer half agt en dan gaan ons verder met die Mashowingrivier aan . Ons draai later uit om deur die mooiste Kalahari te ry.
Ons kry ons laaste brandstof vir die volgende 360 km. Ons gaan verby Sevirn waar daar ‘n paar lekkerrrr duine is om ons besig te hou . Vir die wat wil, is daar van die hoogste duine van die omgewing om aan te durf.
As ons by Frylinckspan aankom, sal dit net betyds wees om kamp te maak voor die half agt aandete.
DAG 4
Ons gaan ‘n bietjie later slaap en eers agtuur brekfis. Now is dit ons en die groot duin waarvoor Frylinckspan so bekend is. Hier is dit tegniek en nie brute krag wat tel nie.
Ons gaan ook die Koning van die duine kompetisie hier hou.
Ons gaan net lekker speel en vroeg genoeg klaarmaak sodat ons lekker kan kuier en konsert hou. Daar is ook ‘n ander deel van die duin vir die van ons wat nie lus het vir kompetisie ry nie.
DAG 5
Ons breek kamp op en vat die langpad huis toe. Dis ongeveer 100 km tot by Hotazel waar ons weer kan brandstof kry.
LET WEL
By Boereplaas is daar ‘n lapa waar ons eet en kuier onder dak. Daar is lekker kampplek en ablusiegeriewe. Die mense wat ‘n chalet wil he, moet dit self bespreek by Johan tel 053 9274462 Dit sal vir jou eie koste wees. Die eienaar is Kobus Oosthuizen. Se vir hulle jy is saam met RSG4X4 anders gaan hy se hulle is vol.
By Frylinckspan is daar net kampplek en ‘n donkie vir die storte en darem toilette ook.
Die eienaar is tannie Miems. Die storte is te min vir almal. So, as jy jou eie wil saambring, is jy welkom. Die water is goed vir bad, maar te brak vir drink.
Bring jou eie tent en kampgoed, kampstoel, eetgerei, drinkwater, Peaceful Sleep, sonbrandgoed hoed, kamera, toiletpapier, handdoek, flits, bandepomp en drukmeter, sleeptou as jy het, peuselgoed en iets om die padkos in te sit.
Sorg dat jou 4x4 ‘n hakplek voor en agter het –vir ingeval.
Elke kar moet asb een bondel of sak vuurmaakhout saamneem vir Frylinckspan.
Die naaste dokter is Vryburg of Kuruman.
Jou brandstof moet jou 450 km kan neem en as jy baaaaie wil speel, bring nog extra.
Al die kos word deur die span Wolmaransstatters gemaak wat ons laasjaar so bederf het in Botswana. Dan gaan die opbrengste aan die ouetehuis op Wolmaransstad.
Die koste van die toer sluit alles in. Dis kos, kampplek, roetekostes, gidse .
Ons gids is Willem du Toit van Molopo Wapens op Vryburg wat al ‘n hele paar trippe in die Mashowing gedoen het.
Dis R2200 per persoon vir al vyf dae met kos, gidse, roetekoste, kampplekke en padkos ingesluit. Kinders onder ses is gratis. Ses tot twaalf is R600.00 en twaalf tot 18 is R1000.00