GOLDEN GATE 2009
Spesiale toer deur Qwa-Qwa Park en Golden Gate
Gewoonlik wil ons nie ‘n harde 4x4 toer doen so naby aan die Desember vakansie nie, sodat ons voertuie nog reg is vir die krismistyd. Daarom het ons nie iets vir die einde November beplan nie. Maar toe het ek onlangs die voorreg gehad om op ‘n demonstrasietrip deur die Qwa-Qwa nasionale park by Golden Gate naby Clarens te gaan.
Die Qwa-Qwa park word nou by Golden Gate ingelyf en hulle wou dit bekendstel.. Die roete is ‘n baie dowwe spoor deur die ongerepte deel van die park wat net deur die bewaarders en jagters gebruik word, met baie diere soos Swart Wildebeeste, Springbokke, Hartbeeste, Blesbokke en baie voels.en die mooiste natuurskoon . Op party plekke is die roete steil op en af met mooi uitkykpunte en die mooiste sandsteen formasies. Alhoewel dit nie baie moeilik is nie, sal jy wel laestrek nodig kry om stadig genoeg deur die sandsteenformasies te kan ry en daar is genoeg lekker 4x4 dele.
Toe ek met die parkhoof, Mnr Johan Taljaard praat, gee hy my toestemming om op ‘n eenmalige trip op dieselfde roete te gaan met die RSG4X4KLUB.
Na die ordelike manier en reaksie van die mense wat op daardie trip saam was, het ons toestemming gekry om dit weer vanjaar te herhaal. Niemand anders word daar toegelaat nie, as gevolg van die sensetiwiteit van die area.
Dis so mooi, dat ek nie die kans wou laat verbygaan sonder om die mooi aan ons 4x4 vriende te wys nie. Ons getal voertuie is wel beperk, maar wie eerste bespreek, sal eerste plek kry.
Ek het toe besluit om ‘n lekker naweek daarvan te maak. Vir die tweede dag het ons ook ‘n baie mooi roete gekry wat andersinds ook taboe is. Oom Kwe-kwe Naude het ‘n plaas, ,,GODS AKKER’’ net buite Clarens, sowat 25km van die Park af gehad. Daar is die heel mooiste 4x4 roete oor die lang kalksteen rante en berge wat op party plekke lekker styl is , maar die wiele trap so lekker vas op die sandsteen, dat dit ‘n wonderlike ervaring is. Daar is amper ‘n Kaapse tipe plantegroei met Proteas en Fynbos soos in die Boland se berge. Daar is Hangkranse waar die Boere-oorlog se tannies weggekruip het . Op die einde van die roete is daar een so ‘n krans wat nou as bokkraal dien, maar jy kan jou nog voorstel hoe dit daar in daardie tyd gelyk het. Ons sal daar tot naby kan ry en net sowat 100 meter hoef te loop, wat die moeite werd is. Die roete hou ons heeldag besig.
Die plaas is verkoop en die nuwe eienaars wou niks weet daarvan dat 4x4’s daar ry nie. Nou skielik het hulle gese ons mag eenkeer daar gaan ry en dan sal hulle sien hoe dit gaan voordat hulle vir die toekoms sal besluit.
Ons gaan dan Donderdagaand die 5de November by die Golden Gate Hotel bymekaarkom net betyds vir registrasie half sewe en dan aandete half agt.
Die hotel is in aanbou en daarom bly ons in die heelwat duurder selfsorg eenhede. Die nuwe kombuis van die hotel is al gereed en hulle gaan al die etes verskaf.
Hierdie gaan dus ‘n luukse naweek gekombineer met lekker 4x4 wees waar Ma dan ook ‘n slag bederf sal word.!!
Alle etes is by die hotel. Saans half agt en soggens half agt.
Dan gaan ons die Vrydag deur die park op die spesiale roete en die Saterdag op die sandsteenroete op ,,Godsakker’’
Jy moet jou eie drinkgoed bring. Vir die roetes in die dag. In die hotel is ‘n kroegie en ons mag nie ons eie drank daar inneem nie.
Die koste per persoon is R3250.00 . Dit sluit die roetes se koste, gidse, alle etes, luukse blyplekke, padkos en die park se permitte in. Dis van Donderdagmiddag tot Sondagoggend.
As jy dan Sondag lus het, stel ek voor dat jy deur die Gloden Gate Park ry tot by Harrismith en daarvandaan huis toe. Of, Party mense kuier laaaaank by Clarens of gaan eet middagete by die Fouriesburg Hotel tel 058 223 0207.
Ons mag dalk die dae omruil afhangende van die beskikbaarheid van die gidse en die weer, maar die reen maak dit net mooier.
Dis warm daardie tyd van die jaar, maar maak tog voorsiening vir die slag as die reen ons verras.
Maak seker jy pak die volgende in: Sonbrandgoed, hoed, kamera, genoeg drinkgoed vir die pad—dit word soms warm daar. Wielepomp en drukmeter, sleeptou as jy een het, maar ons het alles net vir ingeval.
Ons het net blyplek vir 30 mense. So, eerste bespreek, kry plek. Daar is egter enkele kamers met ekstra plek vir kinders. Maak seker jy reel met Martie by die kantoor.
Kinders onder 6 is gratis as hy die ouers se kamer deel met sy eie matrassie en nie ‘n grootmens se bed opneem nie.
6 tot 12 is 40 % en 12 tot 16 is 80% van die prys.
My noodnommer is 082 491 5900.
Hierdie gaan ‘n baaaaaie lekker naweek wees, ek belowe.
Groete, Francois.