Home

GURAPAN (GOERAPAN) SANDERVARING 2 TOT 5 SEPTEMBER 2010

Hierdie is die eerste keer dat ons die sandroete met sy lawwe duine van hierdie deel van die Kalahari gaan trotseer. Piet Kotze het die pad wat hy moet ry om die 17000 hektaar van sy plaas te versorg, baie lank en eentonig gevind en toe ‘n roete deur die duine en los sanddele oopgery sodat hy sy plaaswerk meer aantreklik vir homself kon maak.

Gaandeweg het meer en meer van die ervare sandryers begin om hom op sy boerderytrippe te vergesel en dan het meer en meer duine deel van die roete geword.

Toe dinge te erg geword het, het hy ‘n pad uitgele wat vriendelik teenoor die natuur is en ‘n ervare 4x4 man se bloed laat vinniger loop.

Gurapan le net 107 km van Upington af op die Gemsbokpark pad. Die pan le reg langs die teerpad wat wat Askahm toe loop, wat dit maklik maak vir mense met waentjies en karavane om sonder moeite daar te kom.

Ons gaan al drie aande op dieselfde plek bly en Piet bou spesiaal vir ons toilette en warm storte op die pan.

Die span van Wolmaransstad gaan weer kos maak, wat beteken dat ons ons nou al sal moet begin uithonger as ons nie wil rol nie.

Piet het ‘n span mense aangesit om al die bosse wat ons voertuie mag krap skoon te maak. Daar is ook ‘n muisroete by die plekke waar die hardebaardmanne self klei---of is dit sand trap. Dit beteken dat elkeen ‘n kans sal kry om sy staal te wys, terwyl ons mak manne nie nodig het om ons voertuie te veel te straf nie. Op ‘n stadium gaan ons deur ‘n wildkamp met Gemsbokke, blesbokke en nog ander wild.

DAG EEN DONDERDAG 2 SEPTEMBER

Ons kom by Gurapan aan en elkeen slaan sy eie kamp op sodat ons teen sesuur by die kampvuur kan bymekaarkom vir registrasie, lekker nonsens praat en ete half agt.

DAG TWEE VRYDAG 3 SEPTEMBER

Vandag vat ons die makker deel van die plaas aan en gaan ongeveer 100 km vir die dag ry. Die roete loop deur sandvlaktes, oor panne en deur genoeg duine. Ons kry kans om die mooi van die Kalahari met sy unieke plante en duine te waardeer. By al die moeilike plekke is daar ompaadjies wat gewoonlik nat van die trane is van die manne wat gedink het hulle kon.

Ons beplan om so teen half ses die middag weer terug in die kamp te wees.

DAG DRIE SATERDAG 4 SEPTEMBER

Vandag sal daar kans wees om genoeg te speel. Ons gaan nie weer so ver ry nie, maar die duine raak nou groter en losser, maar nie totaal onrybaar nie. Ompaaie is spesiaal gemaak sodat ons wat sukkel nie die ander ophou nie, alhoewel daar darem kans vir lag en fotos neem ook is.


Hierdie is sandryplesier soos net die Kalahari kan bied.

Ons gaan nie ‘n groot groep wees nie, omdat dit die eerste keer is dat ‘n groep hierdie roete ry. Dan kan ons ‘n plan maak as iemand sou sukkel.

Ons sal weer so half ses terug in die kamp wees en vanaand hou ons konsert rondom die kampvuur. Piet ry spesiaal hout van die ander plaas af aan vir hierdie kampvure in die aand.

DAG VIER SONDAG 5 SEPTEMBER

Ontbyt is agtuur en dan is dit weer ons en die lang pad huis toe

LET WEL:

Die koste is R2600.00 per persoon wat die kampplek, etes, gidse en roetekostes alles insluit.

Jy moet jou eie kampgoed, eetgerei, drinkwater, ander drinkgoed genoeg, flits, toiletpapier, handdoeke, kamera, verkyker, bandepompie en drukmeter saambring. As jy ‘n sleeptou het bring hom saam---om die ander te help!!!

Ons getalle is beperk en daarom werk ons maar op ‘n eerste bespreek basis.
As julle weet wat ek weet, sal julle baie vinnig praat.

Aandete en ont byt is altyd half agt en jy moet ietsie saambring om die padkos in te sit. Bring genoeg drinkgoed, want die keel word droog van die stof.

Alhoewel ons van Upington tot weer daar net 400 km gaan ry, beveel ek aan die ouens met klein brandstoftenkies ‘n kan petrol by die kamp los vir wanner die seuntjie in die man soveel speel dat die sous min word.

Net voertuie met laestrek kan saamgaan.

GROETE
FRANCOIS - 082 491 5900

Home