Home

DIE RSG 4X4 SNEEUTOER NA LESOTHO: 5 – 9 AUGUSTUS 2010

Welkom saam met ons op hierdie lekker sneeunaweek. Onthou ons het paspoorte nodig.
Dis te koud om in die sneeu te slaap en die blyplekke in Lesotho is nie te lekker nie. Daarom bly ons by Fouriesburg en gaan soggens oor die grens.

DONDERDAG 5 AUGUSTUS 2010
Ons kom almal by die Fouriesburg Country Lodge bymekaar betyds sodat ons kamers kan kry en betyds is vir registrasie sesuur die aand. Aandete is half agt. As jy vroeer wil kom of enige spesiale dieet het, noem dit net op die bevestigingsvorm.

Omdat die hotel nie groot genoeg is nie, sal party van ons in gastehuise baie naby bly, maar ons eet almal by die hotel.

VRYDAG 6 AUGUSTUS. 2010
Hierdie gaan die langste dag van die naweek wees en die moeilikste.

Ontbyt is seweuur en ons vertrek agtuur na die grenspos net ses km. verder. Dan gaan ons aan tot by die T by Butha Buthe waar ons links draai Noord na die Mouteng Pas. Dis nog alles teerpad, maar ons klim amper 2000 meter tot 3200 meter bo seevlak en dit voel of jou 4x4 stukkend is ,want die hoogte en die steilte laat hom swaar trek. Ons ry oor die pas, maar nes ons anderkant afgaan, draai ons regs weg op ‘n slegte grondpaadjie wat ons deur die hart van die sneeu sal neem. Hierdie 64 km. paadjie gaan ons 5 ure neem. Ons het egter ‘n ontsnap roete vir as die sneeu te diep is en ons nie kan deurkom nie. Ons wil darem die aand in ons warm beddens slaap!. By LeJoni sluit ons weer by die teerpad aan. Nou gaan ons die steilste bergpas af wat jy nog gesien het! Dis 14 km. teerpad, maar moerse steil. Jy moet die 4x4 in tweede of derde rat hou, want die remme word te warm as jy laat waai.

Onder by Leribi is daar ‘n T aansluiting waar ons regs draai tot weer by Butha Buthe waar ons links draai Caledonspoort grens toe.
Die trip is 330 km. in totaal. Daar is brandstof genoeg in Fouriesburg.
Aandete is half agt, maar as ons laat terugkom, eet ons eers voor ons na ons slaapplekke toe gaan.

SATERDAG 7 AUGUSTUS 2010
Ontbyt is agtuur en ons vertrek negeuur weer deur die grens . By Butha Buthe draai ons regs tot by Leribe. Net na die vulstasie draai ons links. Dan gaan ons die steil pas op met 531 draaie in 100 km. Ons stop bo by die uitkykpunt om in die sneeu te speel en die wereld van bo af te bekyk.

Dan ry ons tot by die hoe brug oor die dam. Net 200 meter verder draai ons regs op die grondpad wat ons al langs die dam neem tot voor by die teerpad waar ons regs draai damwal toe. Ons kyk eers na die video van die dam en dan gaan ons in die tonnels van die danwal in. Binne die wal is baie tonnels wat die lekkasies en bewegings van die wal monitor.

Elkeen pak die terugtog op sy eie aan om te keer dat ons te haastig raak en jaag.
Die aandete is half agt.

SONDAG 8 AUGUSTUS 2010
Ontbyt is agtuur en ons vertrek negeuur.

Ons gaan eers na SANDSTONE Estates 15 km van Ficksburg af. Daar is die grootste versameling stoomtreine in privaat besit in die wereld.

Ons gaan op die stoomtrein ry op ‘n 45 min roete op die plaas. Dan gaan ons na die store waar daar honderde gerestoureerde trekkers, lokomotiewe, motors en ander voertuie is wat party uit die 1890 jare tot so 1960 dateer.

Dan gaan ons middagete eet voor ons vertrek na ons volgende verrassing.
Net buite Fouriesburg staan ‘n kasteel wat deur Oliver Hill in die tagtigs gebou is. Hy het R36 miljoen by Trust Bank gesteel en daarmee die kasteel begin bou. Toe hy die derde vloer bereik, het hulle hom gevang. Nou staan die kasteel so half gebou. Ons het 4x4 nodig om soheen toe te gaan. Van bo af kan die hele kom pragtig bekyk word.

Ons het darem ‘n lekker 4x4 roete ook om die tradisie te laat voortleef. Ons gaan ons sundowner daar geniet en sal die aand weer betyds wees vir die ete half agt.

Vanaand het ons sommer so tussen ons ‘n konsert.

MAANDAG 9 AUGUSTUS 2010
Ontbyt is agtuur en ons vertrek negeuur na Meiringskloof net 2 km verder en ons gaan stap so drie km. in die kloof op en met die kettingleer op en anderkant weer af. Hierdie is prentjiemooi en jy hoef net so ver te gaan as wat jy lus het.Die wat nie lus het vir stap nie, sal kan ry tot in die kloof wat hulle sal geniet.

Ons kom dan by die hotel bymekaar vir ‘n lekker koppie sop voor ons die langpad huis toe aanvat. Dit sal net na eenuur wees.

LET WEL!!
Hierdie toer sluit alles in. Die hotel is nie groot genoeg vir almal van ons nie en daarom sal party in die gastehuise naby bly. Vier aande in die hotel of gastehuise, alle etes, elke dag padkos, koste by die grens, toegange na die kasteel en Meiringskloof, Katzedam se toegang en gidse, ens. En die Sandstone toer.

Ons is net self verantwoordelik vir ons drinkgoed.

Die koste is R2950.00 per persoon vir die volle tyd alles ingesluit. Kinders 6-11 jaar R1475.00, 12 – 18 jaar R2000.00 maar as hulle hul eie matras en beddegoed bring en die ouers se kamer deel, is dit net R1000.00 . Onder 5 is gratis, as hulle hul eie matrassie en beddegoed bring en die ouers se kamer deel. Vir meer as een kind onderhandel ons ‘n beter prys.

Fouriesburg is 300km van die Rand af. Ry Villiers en draai af na Frankfort, Tweeling, Bethlehem en dan Fouriesburg. Van die hoofpad af, neem die eerste afdraai na Fouriesburg en hou aan tot by die kerk links en die hotel regs. Dan is jy daar.

Maak seker jou voertuig het antivries in die verkoeler. Ons het nie kettings of spesiale bande nodig nie.

Bring net ‘n flits, handdoek, banddruk meter en pomp, sleeptou, vir as die sneeu glad raak, drinkgoed genoeg vir die pad, warm klere, kamera, en PASPOORT !!!

My nood nommer is 082 491 5900.

Groete Francois

 

Home