OU OSEWAPAD
Ons gaan nie oor die grens nie –Geen paspoorte nodig nie. Hierdie is ‘n baie interessante en lekker trippie wat ons diep in die verlede inneem.
DAG 1
Almal kom gedurende die dag by die Mpageni kamp bymekaar sodat ons teen aandete half agt reeds gemaklik is. Daar is ‘n swembad waar ons solank kan ontspan. Registrasie sal van sesuur af gebeur.
Om daar te kom: Ry vanaf Nelspruit af op die Komatipoort pad vir 22km. Draai nou regs op die MARA pad .Kruis die Mara grondpad en hou op die teerpaadjie.vir 2 ½ km. Draai nou regs by die hek in na Mpageni kamp.Dis net 800 meter. Karavane en sleepwaentjies is welkom.
Aandete is half agt.
DAG 2
Ontbyt is half agt en ons vertrek negeuur na die SHEBA myn. Toe Edwin Baine hier goud ontdek het in 1886, was dit reg bo op die berg. Dit was ook die rykste goudrif in die geskiedenis. Waar ‘n goeie goudmyn ses tot sewe gram goud per ton erts gee, het hulle hier drie en ‘n halwe kilogram goud per ton erts gekry. Fortuinsoekers het vanoor die hele wereld hiernatoe gestroom en oornag het ‘n dorp ontstaan. As gevolg van die malaria wat in die laagtes was, is Eureka City op die top van die berg gebou. Net gou was daar sewehonderd inwoners in die stad met drie hotelle, herberge en agt bordele.---Die meeste mans was alleen en daar was hard gewerk, maar ook hard gekuier.
Die rif het loodreg af geloop en toe die gat dieper geword het, was daar nie plek vir al die werkers in die gat nie. Baie het toe verder gaan soek vir goud en die ryk riwwe aan die Rand het ook veroorsaak dat daar baie min oorgebly het met die gevolg dat Eureka City skielik weer in ‘n spookstad veval het.
Vandag is nog net ruines van die geboue en die perderesiesbaan oor, maar dis ‘n ondervinding om daar te kan rondloop.
Behalwe Eureka City, gaan ons ook in die Golden Quarry in waar die hele berg hol is van die erts se uithaal met verskillende dwars skagte op verskillende hoogtes. Dis baie spesiaal om te sien. Dan ry ons met die 4x4 roete wat ons oor die ou nasionale pad wat vandag ‘n regte 4x4 roete is, neem en ons sal so half ses weer in ons kamp wees.
Aandete is half agt.
DAG 3
Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege op die ou ossewa roete wat van die Rand af na Maputo toe geloop het. As gevolg van malaria, het die roete op die kruin van die berge geloop. Die diep waspore is in die klippe ingekerf en ons volg hulle deur die berg. Op een plek het die Engelse die boere se amunisiewa aan die brand gesteek. Die ontploffing was so hewig dat daar vandag nog nie groot goed groei nie. Ons kry ook baie ontplofde patrone op die plek. Die roete is lekker 4x4 maar nie so moeilik dat dit ons karre sal breek nie. Op een plek het ‘n wa met ‘n vrag porseleinware teen die berg afgeval en daar is nog baie skerwe as gedagtenis.
Ons sal weer die aand half ses terug wees met aandete half agt.
DAG 4
Ontbyt is half agt en ons het ‘n roete wat baie mooi is met lekker moeilike opsionele seksies en sal so twaalfuur klaar wees om die pad huis toe te vat. Veral die hardebaarde sal dit geniet.
LET WEL
Bring jou eie tent, kampgoed, flits, sleeptou, kampstoel, eetgerei, drinkgoed .
Daar is vyf tente op stellasies beskikbaar met 2 beddens en matrasse. Jy moet net jou beddegoed bring. Eerste bel, eerste kry. Verder is daar kampplek. Daar is kragpunte. Ons bly al die aande op dieselfde plek.
Bring net iets om jou padkos in te sit.
Ons gaan net ‘n klein groepie neem. Brevestig asb gou.