SADDLE HILL
Welkom saam met ons op hierdie baie spesiale woestyn ondervinding. Omdat die duine ‘n regte uitdaging is, vat ons net klein groepies. Daarom vat ons drie groepies na mekaar.
Ons weet nou al dat die Saddle Hill woestyntoere spesiaal is.
Ons slaap die aand van die 3de Julie by die Obelix gastehuis in Luderitz.
Onthou Namibie se tyd is een uur na ons. Sesuur by ons is vyfuur by hulle. Ons werk op Suid-Afrikaanse tyd.
Omdat daar heelwat diefstal in Luderitz plaasvind, het ons ‘n veilige bed en brekfis plek met hoe mure en lekker kamers met eie badkamers waar ons voertuie binne die mure naby ons slaap, om oor te bly.
Ons het die hele plek uitgeboek en die koste van die aandete en ontbyt en die gastehuis is alles ingesluit by die R2500.00 per persoon. Ek gee die tel. No. as jy dalk voor die tyd daar wil bly.
Die plek is nes jy Luderitz inkom aan die linkerkant. OBELIX GASTEHUIS en die baas is Norbert en sy telefoon is van S.A. 09264 811283667 of 0926463 202345 Se net jy is van RSG.
DAG EEN
Ons kom deur die loop van die dag by Obelix bymekaar. Die aand is aandete by die Yacht Club. Hulle sal jou van Obelix af beduie hoe om daar te kom.
DAG TWEE
Ons kom die oggend negeuur na ontbyt by OBELIX bymekaar . Daar sal ons die radios uitdeel . Sorg dat jou water en brandstof reeds vol is. Alles wat jy nie wil saamneem woestyn toe nie, kan jy hier los.
Na die geselsie vertrek ons eers so 35 km. met die teerpad uit en dan draai ons reg noord op die grondpad. Na ‘n paar km. verlaat ons alle paaie en draai die woestyn in. Hier sal ons stop om die bande af te blaas en die reelings te bevestig.
Ons ry sowat 170 km. vir die dag. Aan die begin is die roete rybaar, maar die sand word algaande dikker en die duine word groter. Die laaste 25 km. is regte duine en neem langer as die res van die roete . Hier leer ons 4x4. Ons spandeer tyd om almal wat hulp soek, reg te help en te leer. Ons voorsien tweerigting radios aan almal.
Ons kom so sononder by die kamp by Saddle Hill Noord. Hier het die Duitsers die ou werkswinkel oopgegrawe om die kuiersaal te maak. Die ou barakke is ook so effens reg gemaak om as slaapkamers te dien. Omdat dit hier nasionale park is, mag geen konstruksies opgerig word nie en moet ons die oues gebruik. Dis baie basies.
Daar is beddens met matrasse, maar jy moet jou eie beddegoed bring. As jy privaat wil wees, kan jy jou eie tent bring. Daar is plek onder dak om dit op te slaan.
Dis sand, sand en sand oral!!!
Ons voorsien spesiaal twee helpers om die skottelgoed te was en vuur te maak ens.
Om te stort, bespreek jy ‘n warmwatersak . Jy neem hom Badkamer toe en stort tot hy leeg is, dan neem jy hom terug vir die volgende een om te stort. Die water is brak en net Organics sjampoo skuim daarin.
Daar is spoeltoilette.
Die plek het yskaste, vrieskaste, ‘n gas stoof, messe en vurke en borde ens. Daar is potte en panne en roosters en vuurmaakhout.
So, jy hoef nie jou eie te bring nie. Elke voertuig moet net 20 liter vars water saambring om die kombuis te voorsien.
Elkeen bring net sy kosgoed en berei dit daar. Saans is die braaivure gereed en jy gooi net die vleis op. Ons kuier saans baie lekker om die vuur.
DAG DRIE
Elkeen ontbyt op sy eie tyd. Ons vertrek negeuur. Die volgende twee dae se program word omgeruil afhangende van die gety en die weer.
Ons gaan een dag suid na die spuitgat en dan langs die see af. As die gety dit toelaat, haal ons swart mossels uit om die aand te eet.
Dan gaan ons na die ou myndorpie Saddle Hill suid wat geheel al deur die sand toegewaai is. Dan kom ons oor die massiewe duine terug. Dis nou dat ons eers die regte slipfaces begin kry. Dis hier waar jy besef dat die Namib enig in die wereld is en die duine en sand laat jou besef hoe groot die wereld is.
Ons kom so amper sononder terug by die kamp.
DAG VIER
Ons vertrek negeuur noord. Ons gaan eers verby ou diamant siwwe voor ons na die wrak van die Otawi wat in 1945 daar gestrand het gaan kyk. Ons moet oor die rotskoppie klouter om by hom uit te kom en daarvoor het jy gemaklike klimskoene nodig.
Daarvandaan gaan ons met die strand op verby die Gemsbokke se drinkplek en dan na die oorblyfsels van die United Trader, ‘n skip wat in 1974 daar gestrand het met 700 ton plofstof aan boord. Om te keer dat hy op verkeerde tyd ontplof, het die regering hom op 16 Des. 1975 laat ontplof. Hy is nogal stukkend!!.
Dan gaan ons na nog ‘n wrak toe voor ons oor die massiewe duine na die uitdaging toe gaan. Hierdie duin is 76 meter hoog en ons probeer opkom. Daar is egter makliker ompaaie as jy nie lus het vir sukkel nie.
Good Year het ‘n spesiale prys op hierdie duin.
Ons is die aand teen sononder terug in die kamp en vanaand kuier ons lekker en hou prysuitdeling.
DAG VYF
Ons vertrek na ontbyt oor die duine terug Luderitz toe. Afhangende van hoe die wind gewaai het, sal die duine vir ons met of sonder kroontjies inwag. Ons bestuur egter nou baie beter as drie dae van te vore. Ons ry met ‘n ander roete terug tot by die boorgat. Daarvandaan is dit nie te moeilik nie. Ons behoort so teen vieruur die middag terug te wees by die teerpad. Party slaap die aand weer by Luderitz en ander verkies om by Klein Aus te gaan slaap.
LET WEL: Hierdie is die heel beste duine en sandry rit wat jy in die wereld kan kry.Ons neem herwinningstoerusting, maar jy moet seker maak dat jou 4x4 ‘n haakplek voor en agter het. Bring net ‘n sleeptou, Bandepomp en drukmeter. Bring ook ‘n flits, verkyker, genoeg drinkgoed, kamera, sonbrandgoed, beddegoed, graaf, maar moet nie jou voertuig oorlaai nie.
Slegs voertuie met Low range kan saamgaan en jou voertuig moet ‘n Z.A. plakker op he.
Jy moet brandstof saamneem vir 500km. Of die premie betaal by Saddle Hill Ons reel spesiaal dat daar reserwe brandstof in die woestyn is vir ingeval iemand kort raak. Hulle vra wel ‘n bietjie ekstra om dit soontoe te ry, maar dis nog steeds goedkoper as ekstra tenks en sukkel.
Die koste is R2500 per persoon. Kinders onder twaalf is halfprys en onder ses is gratis.
Tariewe vir gesinne met meer as een kind word onderhandel. Jy moet jou eie kos bring. Al die geriewe vir gaarmaak is reeds daar. Bring 20 liter water vir die kombuis.
Plekke om by te bly op pad is: Klein Aus 121 km. voor Luderitz: 0926463 528021.
Ai-Ais: 0926463262045 Kuala ruskamp naby Sesriem 0926461 274500.
Sesriem 0926461 23695
Nog nooit in jou lewe het jy soveel plesier gehad nie.
Vir enige navrae kan julle Martie Vice skakel by 082 491 5900