TRANSKEI WILDEKUS TOER 22 - 27 MAART 2010
Hierdie toer is nie ‘n 4x4 uitdaging nie, maar ‘n reis om die mooi plekke van die Transkeise Wildekus te sien en ervaar. Die roete is sodanig dat jy ‘n 4x4 met laestrek nodig het om by al die plekke uit te kom. Die paaie is maar sleg en ons sal nie baie vinnig vorder nie. Plekke is ingesluit wat vir my baie spesiaal is en ek weet dat almal dit baie sal waardeer. Daar is ongelukkig net ses pare wat elke aand in ‘n chalet sal kan slaap. Die res sal partykeer moet kamp. Op sekere plekke sal daar op die dag ekstra chalets beskikbaar wees, maar ons kan dit nie voor die tyd bepaal nie. As mense die geluk kry, sal dit dan vir hulle eie rekening wees.
Twee aande sal daar vir almal slaapplek wees en dis ingesluit by die prys.Dis darem beter as om elke aand te kamp.
Ons kos word al die pad deur die Wolmaransstadse span voorbrei.
Ons gids is Willie Stadler, ‘n sendeling wat al baaaie jare in die Transkei werk en toegang het tot plekke waarvan ons nog nie eens gehoor het nie.
Omdat die mense gewoonlik deur die Transkei vlieg en net hier en daar iets sien, het ons ‘n baie deeglike opname van al die mooi dinge gedoen. Hierdie trip gaan ons die mooi plekke wys op roetes wat die normale mense nooit sal bereik nie. Ons begin by UGIE.
Chalets is vir almal, die 2de en 4 de aande wat ingesluit is by die prys.
Skakel Martie 011 902 5066 ivm die ander aande waar daar plekke beskikbaar is. Daar is dit eerste kom, eerste kry. Sy het ook die koste. Die koste is min, omdat ons dan die kampgeld wat ingesluit is in die tripkoste, afgetrek het van die chalet koste.
DAG EEN SONDAG 21 MAART
Ons kom almal by FORTY WINKS bymekaar . As jy in Hoofweg ry in UGIE, en by SHORTEN MOTORS die wit ,,no-name’’ garage kom, draai jy Noord in Smitstraat en ry tot by Nommer een.
Ons kom so teen sesuur die aand daar bymekaar, maar die kampplekke sal al vroeg gereed wees.
Daar is ‘n paar chalets ook beskikbaar. Ons kan reel teen R150.00 per persoon. Wie eerste vra, sal kry.
DAG TWEE MAANDAG 22 MAART
Ontbyt is seweuur en ons ry sodra die kokke opgepak het. Agtuur sal ons tweerigting radios uitdeel.
Vandag ry ons met die nuwe, duurste pad in Suid-Afrika verby Langeni Bos. ‘N groot deel van ons hout kom van hierdie bos af. Die pad is plek-plek so gebou dat dit bo-oor die inheemse bosse loop, sodat hulle nie hoef uitgekap te word nie. Dan ry ons langs die skilderagtige Mbaseerivier vallei af en verby Collywobbles. Ons slaap die aand by The Haven teen die see. Vanaand slaap ons almal in huisies, ---ingesluit by die prys---maar die wat wil, mag tent opslaan. Daar is twee kombuise waar ons kokke kan kosmaak.
Aandete is agtuur.
DAG DRIE DINSDAG 23 MAART
Ontbyt is seweuur en ons ry half nege.
Vandag ry ons deur die Hlonyama-bos en verder Noord tyeen die Wildekus op. Ons gaan kyk na HOLE in the WALL en in Xhosa is dit ESIKHALENI – dis ,,die plek waar dit raas’’ –
Nou gaan ons Koffiebaai toe waar ons hulle koffie kan koop en dan ry ons oor die Mtata Rivier na Tshani.
Vanaand slaap ons by Mdumbi-mond by Johan Stadler se plek. Daar is huisies vir 18 mense. Die res sal maar kamp. Die huisies is R100.00 per persoon.
Aandete is agtuur.
DAG VIER WOENSDAG 24 MAART
Ontbyt is seweuur en ons ry half nege.
Vandag ry ons deur die Mdumbi Rivier naby die CANZIBE Sendingstasie – Lekker 4x4--!!!
Ons gaan vandag besig wees met die roete deur die Hluleka –reservaat en verder deur die Mnenu riviertjie tot by Sinangwana.
Ons slaap vanaand weer almal in cottages wat ingesluit is by die prys.
DAG VYF DONDERDAG 25 MAART
Ontbyt is weer seweuur en ons ry half nege.
Vandag is weereens spesiaal. Ons gaan eers ‘n draai maak by Port St Johns met sy drie strande, die aanloopbaan bo-op die berg en die gat wat water uitspuit. Ons hoop die gety is reg. Dan gaan ons Lusikisiki –beteken ,, die geluid wat gras maak as die wind daardeur waai’’- voor dat ons die asemrowende Magwa waterval van 109 meter gaan bekyk. Hiervandaan gaan ons na die teeplantasies waar ons Transkei blikkies tee kan koop.
Nou beweeg ons aan na Mbotyi in die pragtige bos by die see waar ons die aand oornag.
Hier is net beperkte akkommodasie en die meeste van ons sal maar moet kamp.
DAG SES VRYDAG 26 MAART
Ontbyt is seweuur en ons ry weer half nege.
Ons werk hard om toestemming te kry om vandag na Lupatana toe te gaan. Dan gaan ons na Waterfall Bluff waar die sterk rivier direk in die see val. Dis baie spesiaal.
Nou gaan ons met ‘n ander roete deur Lusiki na Flagstaff verby die Holy Cross hospital na Mkambati. In die WEG van Desember is ‘n storie hieroor.
Vanaand gaan ons by Cremone by Port St. Johns op die wal van die Umzimvubu rivier slaap. Hierdie slaapplek mag miskien verander, maar net effens.
Vanaand hou ons konsert en kuier vir oulaas.
SATERDAG 27 MAART
Ons ontbyt weer seweuur en dan gaan elkeen sy eie pad.
LET WEL
Ons moet die volgende goed saambring.
Tent en kampgoed vir die aande waar ons nie chalets het nie.
Eetgerei, handdoek, flits, toiletpapier, kampstoel, sleeptou as jy een het net vir ingeval, bandepomp en drukmeter, spaar brandstof filter, drinkwater, graaf as jy het, muskietgoed, genoeg drinkgoed en peuselgoed. Iets om die padkos in te pak., warm klere vir die aande en vir ingeval, ‘n reenjas.
Ons kry ontbyt en padkos en ‘n lekker aandete elke dag.
Ons koste wat al die etes, die roetes, toegange, gidse al die kampplekke en twee aande in die chalets insluit is R3500.00 per persoon. Kinders 6-11 jr. R1100. 12-15jr R1750 en 16jr op is volprys.
GROETE
FRANCOIS
0824915900