Home


WESKUS 3– 9 OKTOBER 2010

Hierdie is ‘n heel windgat toer en jy moet net jouself en die 4x4 bring met warm klere vir die aand en koeles vir die dag. Lekker stapskoene , kamera en jou eie drinkgoed.

SONDAG 3 OKTOBER 2010
Ons kom almal die middag so van vieruur af by die PATERNOSTER HOTEL bymekaar sodat ons ons blyplekke kan kry en reg is vir aandete half agt. Alle etes is by die hotel. Registrasie sal sesuur wees. Om by Paternoster te kom, ry op die pad van Kaapstad na Veldrif en draai links na Vredenburg. Ry deur Vredenburg en moenie die Saldanha pad neem nie, vat die pad na Paternoster. By die eerste stop in Paternoster draai links by die ‘OEP VIR KOEP’ winkel en die hotel le voor jou. Die Paternoster Hotel is sekerlik die simbool van die Weskus en baie gesog. Maak gerus ‘n draai in die Wereldberoemde kroegie en stap oor die duin tussen die hotel en die see, wat nou as ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar is. As daar mense is wat al die dag voor die tyd wil ingaan, bel gerus en sê jy is van die RSG4X4- groep. Die telefoon-nommer is 022-7522703 en die eienaar is JOHAN CAROSINI.

MAANDAG 4 OKTOBER 2010
Ontbyt is half agt en ons vertrek half nege. Ons gaan probeer om ‘n oester proe te reel en dan gaan ons deur die Paternoster Park tot by Paternoster en Tietiesebaai. Daarvandaan gaan ons na Dwarskersbos en dan met die grondpad tot aan die voet van die Klein Tafelberg waar ons deur die sandroete ry tot by die kamp. Vanaand is die Muisbosskerm aan die beurt.

Dan volg ons die pad tot by Lambertsbaai waar ons by Eureka Woonstelle bymekaarkom om die sleutels te kry vir ons vakansiehuise wat die volgende twee aande ons woonplek gaan wees. Omdat elke huis twee of meer slaapkamers het, moet ons groepies maak met wie jy ‘n huis wil deel.

Aandete is half agt in die Muisbosskerm, so vyf km. uit die dorp uit op die grondpad. Daar is nou ‘n gelissensieerde kroeg op die perseel. Bring ook warm klere saam. Dis langs die see en word kouerig. Seekos.

DINSDAG 5 OKTOBER 2010
Ontbyt is half agt by Eureka Restaurant. Ons vertrek half nege na die Voeleiland waar ons na die broeipare van veertigduisend voels gaan kyk. Ons sal tienuur daarvandaan vertrek na The Dunes, 10 km. uit die dorp uit met die teerpad. Sandduine met die lekkerste roete en speel en sand en speel is wat die hele dag inhou. Ons ry net sowat 30 km. vir die hele dag. Vir middagete gaan ons sommer ‘n worsbroodjie braai tussen die duine.

Aandete is by die Bosduifklip en daarom moet ons honger wees. Daar sal kreef ook wees.

Hier is drank beskikbaar, maar jy mag jou eie bring

WOENSDAG 6 OKTOBER 2010
Ontbyt is weer half agt op die dak en ons vertrek weer negeuur na Lutzville. Ons gaan wyn proe by Lutzville Kelders en ook ietsie lig te ete kry. Daarvandaan gaan ons oor Papendorp na die Olifantsriviermond toe. Dis ‘n landmerk op die kaart. Ons volg die paadjie langs die see af na Strandfontein . Die aand gaan ons in die Gastehuise bly. Ons deel weer huise.

Aandete is by die saal . By die plek waar ons die huise se sleutels kry, sal hulle ons wys waar die saal is. Hier is geen drank nie en jy moet jou eie bring.

DONDERDAG 7 OKTOBER 2010
Hierdie is die langste dag van die trip en ons gaan eers laat by Koiingnaas aankom.

Ontbyt is weer half agt by dieselfde saal en ons gaan elkeen op ons eie tyd tot by die garage op Lutzville waar ons volmaak en as iets nodig is, dit kan koop want hier is ons laaste winkels voor ons vertrek na Koekenaap en Schaapvlei. Daarvandaan volg ons die sandpaadjies wat al langs die see op loop verby die diamantdelwerye en ou myntjies tot by Brand se Baai en verder tot by die Spoegrivier grotte. Die volgende stop is die sekuriteitshek by Koingnaas. Hier gaan ons die spergebied in en daarom benodig ek elkeen se volle voorname en ID nommers sodat ons die klaring voor die tyd kan doen. Anders neem dit 20 minute per persoon.

Nou is ons baie ver van enigiets af en alle geriewe is basies en die enigste. Ons gaan eers volmaak en dan gaan ons direk na die eetplek waar ons gaan eet en ons slaapplekke kry. Ons het vroeer by Noep langs die see gebly in die ou duikershuisies, maar ek verneem die ystervarke het die pype wat hulle water voorsien opgevreet. As dit nie betyds reg is nie, sal ons by die houthoop, ‘n gastehuis naby Kleinsee bly. Daar is ‘n huisie vir elke paartjie en ons eet in die stoor wat omskep is in ‘n eetsaal.

VRYDAG 8 OKTOBER 2010
Ontbyt is in dieselfde saal half agt en ons gaan half nege vertrek na Noep waar die dag se roete begin. Hierdie reelings en eetplek kan dalk verander as ons die roete aanpas, omdat ons die dubbelryery wil uitskakel. Bring jou eie drank saam.

Ons ry op die roete wat oor die duine gaan en ons na drie skeepswrakke neem. Die geskiedenis en stories wat Floors Brand oor die wrakke te se het, is so interessant en ons geniet dit baie. Die sandpaadjie hou ons ook goed besig, maar by hierdie tyd het ons almal al geleer hoe om sand te ry.

Daarna gaan ons na die wit bromduine. Dis die speelplek waar ons vir oulaas ons sandlus bevredig. Ons sal weer aandete eet op dieselfde plek as die vorige aand. Om half agt.

Hier mag jy ook jou eie drank saambring al is daar ‘n kroegie.

SATERDAG 9 OKTOBER 2010
Ontbyt is agtuur en ons vertrek om negeuur op pad Port Nolloth toe. Dan gaan ons met die Skilpadpas, ‘n sandpaadjie met baie skilpaaie, deur die sandvlakte tot by die hoofpad van Kleinzee af. Na drie kilometer draai ons weg Port Nolloth toe. Daar sal ons iets lig eet en dan groet, want party mense wil nog die omgewing bekyk en ander wil aanstoot huis toe. Ons groet so tweeuur die middag.

Ek gee ‘n paar nommers as jy op die pad wil oorbly.

Springbok Lodge: Jopie Kotze: 027 712 1321.

Upington: Nirvana Gastehuis 054 338 0384

Die Eiland 054 334 0286

LET WEL !!
Hierdie is ‘n toer waar ons seekos eet en nog. As jy alergies is vir seekos, moet jy laat weet, sodat ons vir jou slegte kos kan reel.

Bring ‘n bandepomp en drukmeter. Bring iets om die padkos in te sit. Bring ‘n flits, sleeptou en sorg dat jou 4x4 ‘n haak voor en agter het. Vir ingeval. Bring ook ‘n handdoek saam vir elkeen, toiletpapier.
Ons het al die blyplekke en eetplekke wat die Weskus het, hier gebruik, maar waar ons baie afgelee is, moet ons maar ‘n bietjie geduld ook he. Hulle sien hier nooit so baie mense bymekaar nie.

Die totale afstand van die toer is 1300 km. en daar is vulstasies max elke 300km.

DIE TOTALE KOSTE VAN DIE TOER IS R3950.00 PER PERSOON.

Alles behalwe drank en brandstof is ingesluit.

Groete, Francois. 082 491 5900.


Home